|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Vonk se Oskar-musiektoekennings vir 2006 is Maandagaand 30 Oktober by die Marcellus teater in Emperors Palace aangebied. 'n Glansgeleentheid waar 'n groot verskeidenheid musiek liefhebbers bymekaargekom het om te deel in die vreugde van hulle geesgenote se prestasies.
By die deur van Die Theatre of Marcellus is ek vriendelik ontvang deur 'n sekuriteitsamptenaar, genaamd Johannes. Sy innemende persoonlikheid en toegewyde diens het my dadelik laat tuisvoel. Daarna eers die res van die perseel verken. Net na 18:00 is die deure oopgemaak en het die gaste hulle plekke gaan inneem.
Ons is trakteer op 'n voorprogram met kunstenaars soos Adriaan van der Merwe, Marlene, Eben Smit, Asjan en Ronaldo. Ronaldo is akoesties begelei deur Adriaan. Hierdie voorprogram is goed beplan en het vir elke gas se smaak iets op die program gehad.
Die eregaste het kort na die voorvertoning, hul verskyning gemaak en die voorste gestoeltes ingeneem. Die feit dat die funksie met 'n gebed om seën geopen is, het reeds aan die begin die gerusstelling gegee dat die seën van die Here op die aand rus.
Robbie Clay het met 'n indrukwekkende vertoning die verhoog formeel ingewy en die gaste almal hartlik welkom laat voel met 'n vol stel.
Ons het die voorreg gehad om vir Therese Benade en Paul Buckby as seremoniemeesters te hê. Albei het geborrel op die verhoog en 'n soort aansteeklike entoesiasme aan die gehoor oorgedra.
|
|
Elke kategorie se toekennings is oorhandig deur 'n vorige wenner of 'n kenner op die bepaalde gebied. Nicholis Louw was eerste aan die beurt om die wenners vir die kategorie beste nuweling aan te kondig. Die wenner vir die kategorie beste nuweling is is Jakkie Louw. In die kategorie beste kompulasie album het die album "Loslappies" gewen. Die Campbels is die wenner van die kategorie beste musiek DVD, met hulle DVD "21 Treffers". Liesl Marx het die toekenning gemaak vir die beste gemengde kompulasie album en die wenners was "30 Goue sokkie treffers" wat deur Select uitgegee is.
Tydens 'n kort breuk in die toekennings, het Therese die geskiedenis van Vonk met die gaste gedeel en hulde gebring aan dié wat al die harde werk gedoen het om Vonk se fondament stewig gevestig te kry. Paul het daarna gewys hy kan ook Afrikaans sing en sy eie kompososie "Souskluitjies" gesing. 'n Treffende en humoristiese weergawe van wat gebeur as 'n eentalige engelsman by 'n tweetalige boeremeisie vlerksleep van wie die ouers ook eentalig is. Paul het dadelik 'n regmerkie gekry in die harte van ons klomp boertjies wat met 'n passie lief is vir Afrikaans.
Na die insiggewende historiese en vermaaklikheidsbreuk het die toekennings voortgegaan. Nadine Hoffeldt het die toekenning gemaak vir die beste vroulike album. Die wenner in hierdie kategorie was Juanita du Plessis met haar album "Bly by my". Die toekenning vir die beste manlike album is toegeken aan Chris Chameleon vir sy album "Ek herhaal jou". 'n Tikkie humor het hierop gevolg toe Lydia Winchester die toekenning vir die beste lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek oorhandig het met haar Liewe Heksie uitrusting wat 'n spontane giggel en deur die gaste laat golf het. Die wenner het egter die waardigheid herstel, want 'n hoogs gewaardeerde musiekman wat 'n reuse verskil in die bedryf gemaak het, Boet Pretorius, het hierdie kategorie met reg gewen.
Frits Klaaste het daarna 'n huldeblyk gebring aan Abdulah Ibrahim vir sy aandeel in Afrikaanse musiek. J.J. Stevens had die voorreg om die beste Gospel album bekend te stel. Die waardige wenner was Piet Smit met sy album "Growwe Hande".
Dit was weer tyd vir 'n breuk en Gerhard Steyn het die gehoor aan sy voete gehad met 'n lewendige en spontane musiekstel. Hierdie optrede van hom sal die gaste nog lank bybly.
Die volgende kategorie was vir die beste tradisionele Boeremusiek album. Die wenner was Nico van Rensburg met "So speel Nico". Die wenner van die kategorie beste boere-dansmusiek album was Klipwerf Orkes met hul album "Hantam Warmvat"
Hierna was dit tyd vir die toekenning van die beste instrumentale groep. Die loshande wenners was Eclips. Hierdie talentvolle vroue het hul toekenning met grasie en nederigheid ontvang en dit het getoon dat die mees talentvolle mense steeds nederig en spontaan kan wees. Johrné van Huysteen het die toekennings in die kategorie beste groep album gemaak. Die wenners was met reg, Shine 4. Welverdiende wenners. Daarna is die toekennings in die kategorie Rock-Alternatief gemaak. Anton Goosen was loshande die wenner. Die wenners van die kategorie enkel musiek videos, was Kurt Darren met sy produksie "Alleen leen leen". Stef Kruger het die toekenning gemaak aan die beste liedjieskrywers. Die wenners wat dit terdee verdien het, was Gerhard Steyn en Danie Steyn. Mense wat nog 'n groot verskil in die bedryf gaan maak.
Daarna het Dozi die verhoog betree om die toekenning vir die beste liedjie van die jaar te maak. Die wenner was Lize Beekman met "Draadkar oor die see".
Twana Roets het 'n huldeblyk gebring aan Chance Turner, wat nou onlangs oorlede is. Chance het 'n toegewyde loopbaan in die musiekbedryf en 'n sleutelrol in die vestiging van Vonk gehad. Sy vrou het die toekenning in ontvangs geneem.
Jacques du Preez het die toekenning oorhandig vir die musiekpionier van die jaar. Blackie Swart het loshande gewen.
Paul Buckby het gesorg vir 'n nostalgiese musiekbreuk met sy treffende eie komposisie, "Home".
Die toekenning vir die beste Afrikaanse verkoper is gemaak aan Steve Hofmeyr vir sy album "Grootste Platinum treffers". Hy het dit ontvang met 'n lekker tikkie humor daarmee saam en weereens dieper in sy gehoor se harte ingekruip.
Nou was die tyd vir die hoofkategorieë se toekenning. Die werklik waardige ontvanger vir die kategorie beste vroulike kunstenaar, is Amanda Strydom. Die toekenning vir die beste manlike kunstenaar is met reg gemaak aan Chris Chameleon. Die kategorie album van die jaar is toegeken aan Kurt Darren vir sy album "Vat my maak my joune".
So is 'n besondere aand afgesluit. 'n Aand wat die meeste gaste sal bybly vir lank.
Dit is opvallend dat die kunstenaars wat hulle toekennings met die grootste grasie verdien en in ontvangs geneem het, almal aan die Here Sy eer gegee het vir die talent waarmee Hy hulle geseën het en Hom bedank het vir Sy seën op hulle musiekloopbane. Ek sonder graag hier uit vir Nico van Rensburg, Shine 4 en Amanda Strydom. Daar is beslis geen twyfel waarom hulle wenners van formaat is nie! Die grootste deel van Vonk se sukses lê ook daarin dat hulle hul taak in afhanklikheid van die Here verrig en Sy seën vra voordat hulle voortgaan met hulle verrigtinge. Vonk sal daarom nog ruim geseën word in die toekoms.
Tog was daar ook die gaste in die gehoor wat, onwetend dat 'n skrywer reg voor hulle sit, getoon het hoe 'n mens nie optree tydens so 'n geleentheid nie. Agter my het gesit: Johannes van der Wyk en Nico van Wyk, of dit is hoe hulle hulself voorgestel het. Terwyl die gaste ingestap het, het hulle met monde wat oophang en kwyl en sonder omgee wie luister, kommentaar op die dames se uitrustings en die onmiddelike scenario daarrondom gelewer. Tydens die toekennings is daar kommentaar oor die dames wat toekennings ontvang het, gedeel aan almal wat wou luister en nie wou luister nie maar dit maar moes aanhoor. Hierdie kommentaar het weinig met musiektalent te doen gehad. Hulle en hul metgeselle het tydens die toekennings luidrigtug kommentaar gelewer oor die gaste, die kunstenaars en die beoordeelaars se gesonde oordeel. Die metgeselle het ook op 'n stadium harder probeer praat as die gaskunstenaars wat op die verhoog was. Dit was nogal moeilik om werklik die musiek te geniet onder hierdie omstandigdhede. Die kersie op die koek was toe hulle hul teleursteling uitspreek dat hulle nie, soos na bewering deur die organiseerders belowe, 'n knus etenstafel met Nicholis Louw kon deel nie. Ek het nogal 'n mate van respek vir hulle metgeselle gekry, want elke keer as die twee snotkoppies nog drank gaan haal het, het die twee die verleentheid bespreek wat die manne in hul lewe sopas weer vir hulle veroorsaak het. Nou hoop ek regtig nie ek het nou net twee potensieël mooi verhoudings opgebreek nie.....
Die ander opvoedingsprobleem wat deurgeskemer het onder die gaste, is die tendens om tydens die program, sonder respek vir mede-gaste of die maande lange werk van die organiseerders om iets werklik spesiaal saan te bied, selfoonoproepe te maak en te ontvang en sms'e te stuur en ontvang. Al glo julle ons nie, dis werklik steurend vir ons wat daar was om ons passie aan musiek te eer.
As 'n gas by die geleentheid deel ek my gelukwense met die organiseerders. Julle het 'n puik produksie daargestel en 'n werklik gesonde oordeel gehad met die beoordeling. Vonk en die span verdien 'n spesiale applous vir hierdie uiters suksesvolle glansgeleentheid.
.
|