stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Amor maak 'n verskil in mense se menswees
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Sê net die naam Amor Vittone, en die volk is op hulle voete. Spontaniteit is in 'n kits geherdefinieër! Opregte en gemaklike omgang met die gehoor. Daar is letterlik massahisterie as sy die verhoog betree. Amor kry dit reg om in 'n mark waar daar groot kompetisie is, steeds een van die vermaaklikheidsterre te wees wat die grootste aanhang geniet. Haar musiek is kommersieël genoeg dat dit verkoop, maar sonder om karakter en eerlikheid in te boet. Sy glo nie aan kunsmatigheid nie. Amor is 'n romantiese siel wat deur hartsnommertjies, elke lid van die gehoor oortuig dat daar nog hoop is in 'n wêreld waar romanse so dikwels met pyn geassosieer word. Haar repertoire is wyd. Sy slaag daarin om nostalgie te laat herleef. Sy kry dit reg om dansspiere te laat wikkel. Oor haar musiek kan ek baie skryf, maar dit in 'n volgende artikel. Wat veral by hierdie optrede opvallend was, is haar empatie met mense. Sy het 'n seun met verstandelik gestremdheid wat haar op die verhoog benader het, met die grootste respek en begrip laat spesiaal voel. Amor het ook 'n fisiek gestremde in die gehoor, wat ander so maklik sou miskyk, 'n geskenk gegee en spesiale melding van hom gemaak. Deur daardie tikkie ekstra aandag, weer sy hom weer laat besef dat hy net soveel waarde as enige ander lid van die gehoor het. Sy het ook gereëlde oogkontak met individue in die gehoor. Amor het selfs 'n oomblik gehad vir die skrywertjie wat agter die verhoog besig was om sy resensienotas te neem. Amor bied ook aan opkomende dansers die geleentheid om saam met haar op te tree en so deel sy haar kollig met ander. Wat egter die grootste indruk op my gemaak het, is dat Amor deurlopend 'n getuienis vir God gehad het. Sy is nie skaam om te erken waar haar talent vandaan kom nie. Amor is sensitief vir die leiding van die Heilige Gees en as Hy haar motiveer om iets van die verhoog te sê, dan doen sy dit sonder huiwering. Haar aantrekkingskrag as kunstenaar benut sy terdee as 'n geleentheid om 'n paar soekende en seer siele in die gehoor weer met pitkos huis toe te stuur. Om Amor op te som is nie eenvoudig nie. Sy is hier om te bly. Sy is hier om te motiveer.

© Stof 2009/05/16

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

.