stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Iets is dood - dis nogal fishy...
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Dis 'n heerlike somersdag in Queenswood. Die voëltjies kwetter en die windjie waai en .... nou verwag jy ek gaan iets van Rooikappie op haar 75cc bromponie en die groen woud ook sê. Nee, ek wou eintlik sê ....en daar is 'n dooie vis in die omgewing. Morsdood.

Stof en 'n kennis sit by 'n eetplek. Die kelner kom vra ewe vriendelik 'Kan ek help/May I be of service?' Stof vra 'Is daar enige koring in die beslag waarin jy die dooie visse doop' Kelner sê 'Nee sies meneer, ons hou nie dooie visse aan nie.' Stof maak beswaar 'Maar ek gaan beslis nie 'n lewendige vis eet nie.' Kelner swyg en ogies raak wasig. Stof vra toe maar 'Is daar enige koring in die beslag waarin jy die stokvis doop?' Verseker kelner mos toe vir Stof voorskoot, tekkies en bestelboekie dat daar geen koring of koringprodukte in hulle beslag is nie.

Die dooie vis ariveer. Netjies gekis in 'n dik laag beslag. Kelner hou steeds voet by stuk, dis nie 'n dooie vis nie. Stof en kennis eet toe maar die lewendige visse. Sluk dit af met genoeg koffie sodat daar darem 'n ou swemplekke vir vissie in ons binneste kan wees.

'n Paar minute na die rekening betaal is begin stof se visie sekonder raak. Sy balans voel effe gekoring en hy moet mooi kyk waar hy loop. Vennoot bestuur toe maar terug studio toe. Dit blyk toe dat daar wel 'n stewige dosis koring in die beslag was wat ons liewe kelner so hoog en laag as rein verklaar het. En Stof is gekoring, erg. Min of meer drie dae later kon hy eers weer behoorlik funksioneer. Gelukkig vir vriende wat die drie dae vir hom ongekoringde kos en antihistamien aangedra het, anders was hy ook so dood soos 'n vis by 'n fishy viswinkel.

Hier is regtig Something Fishy aan die gang.... Sal volgende keer maar runaways en pap op die straathoek koop. Daar is minstens niks visserigs aan die skoongeskropte kiepvoetjies wat 'n ou gekoring kan maak nie.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Rasionaal agter dié artikel: Moenie alles glo wat 'n kelner jou vertel nie. Hulle voel weinig vir jou welstand en probeer die duurste dis aan jou smous sonder om om te gee of die kos veilig is... en as jy vis koop, wees versigtig vir fishy viswinkels.

© Stof 2009/12/15
.