In 'n wêreld waar hoop so groot in aanvraag is, het daar 'n liggie aangegaan. Hande van Hoop is gestig deur Johann Oelofse en sy vrou Ellen. Saam dra hulle die laste van vele mense wat andersins honger en sonder geestelike leiding sou wees.
Sonder dat Johann en Ellen enige materieële waarborge het vir dit wat hulle benodig om die werk te doen, hou hulle steeds aan en staan in geloof op voorsiening. Daar sal natuurlik tye wees dat voorsiening taan. Maar dit is tye waarin Pa ons meer afhanklikheid leer.
Johann en Ellen het al soveel vonkel in so baie mense se lewens gebring. Elke glimlag, elke stukkie dankbaarheid, herhinder elke leser aan ons Vader se grootheid.
Hierdie getuienis het ten doel om te toon hoedat ons Vader elke dag voorsien. Hoe mense weer hoop kry en mettertyd genoeg selfwaarde ontwikkel, om te kan glo dat hulle wel geregtig is op die verlossing wat Jesus Christus se bloed gebring het.
Danksy die werkers van Hande van Hoop wat so bereidwillig en gehoorsaam Vader se opdragte uitvoer, word die Evangelie soveel viniger versprei. Mag jy hierdeur aangespoor word om elke oomblik wat Hy jou roep tot 'n taak, groot of klein, gehoorsaam te wees en so tot seën in ander se lewens te wees.