|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
'n Ope brief aan Mike (Michael Maditsi) Mphela en Zahir Seckam op 2012/05/02
|
|
| | |
|
'n Ope brief aan Mike (Michael Maditsi) Mphela en Zahir Seckam op 2012/05/02
'n Wyle gelede vra 'n goeie vriend van Stof hom om hom 'n mening te gee oor 'n insident waar 'n persoon ernstig beseer is deur 'n Evkomlyn defek. Die versoek is gedoen na aanleiding van twee uiteenlopende kwalifikasies, maar tog verwant in hierdie geval, waaroor Stof beskik, wat in hierdie situasie gesag aan 'n verslag deur Stof sou gee.
Stof help graag sy vriende, en stem dus in. Stof was saam met sy assesor-vriend by die terrein van die ongeval, het 'n paar tegniese waarnemings gemaak, notas geneem en die gevoel van die plaaslike gemeenskap gepeil. Die verslag is geskryf en aangestuur na Mike se epos adres. Daarna was daar ontsteltenis by Mike oor die inhoud van die verslag. Hierdie ontsteltenis het hy teenoor Stof se assesor-vriend uitgehaal, te midde daarvan dat hierdie vriend reeds die tweede myl geloop het om hierdie ondersoek te laat vlot.
Mike en Zahir se beswaar teen die verslag was die volgende:
- Die gemoedelike trant wat Stof gebruik het.
- Die evangeliese en sosiale faktore wat Stof by sy konklusie ingesluit het.
- Die feit dat Stof die volle realiteit van die saak, wat ook die Geestelike oorsake in invloede insluit, weergegee het.
- Die feit dat daar kruisverwysings was na die Afrikaanse tegniese terme waar die engelse tegniese terme ernstig tekort skiet.
- Die feit dat die verslag afgesluit word met 'n seënwens en 'n vertroue-stelling, soos wat hy in al sy korrespondensie doen.
In hierdie ope brief wil Stof eerstens die besware wat Mike en Zahir gemaak het, aanspreek. Daarna wil hy uitreik na hierdie boeties en hulle uitnooi om wel die plekkies in sy hart, wat net vir hul geresserveer is, in te neem.
|
|
Liewe boeties Mike en Zahir
Ek deel graag meer oor die besware wat julle had.
- Stof se gemoedelike trant: Stof respekteer elke medemens as 'n gelykgeskape skepsel wat deur dieselfde Skepper geskep is. Daarom aanvaar en respekteer hy ook onvoorwaardelik die rede waarom sy Hemelse Vader beskik het dat daardie medemens toegelaat is om te bestaan, sowel en die doel van daardie persone op aarde. Julle twee, as ononderhandelbaar ingesluit by die definisie hierbo, verdien dus om aangespreek te word op 'n manier wat waardering vir julle menswees en persoonwees insluit. Daarom MAG Stof julle nie bloot net onpersoonlik en steriel met julle kommunikeer nie. Sulke kortaf en dooie kommunikasie, sou kortliks daarop neerkom daarop dat Stof julle nie erken as gelyke medemens nie. En soos wat julle hierbo kon aflei, is dit beslis nie hoe Stof oor julle voel nie. Daarom kan, en mag hy ook nie, enige kommunikasietrant handhaaf wat 'n medebroer se waarde as gelyke mede-skepsel, aantas nie. Daarom ook nie kommunikasie wat selfs net daardie indruk skep, bedryf nie.
- Die Evangeliese en sosiale aanbevelings wat Stof by sy konklusie ingesluit het: Elke insident waar 'n gelyke medemens beseer word, het noodwendig ook sosiale en geestelike gevolge vir die slagoffer. Ongeag die tegniese oorsaak van die besering, kan daar vrae ontstaan oor waarom ons Vader die insident sou toelaat. Ander vrae wat kan ontstaan, kan wees oor herinskakeling by 'n gemeenskap, wat oor die algemeen nie tegemoedkomend teenoor gestremdes is nie. Daarom is dit noodsaaklik om ook die selfbeeldkwessies wat as gevolg van so 'n insident kan ontwikkel, as hoë preoriteit te hanteer. Die slagoffer se wete dat hy na 'n lewensvernietigende insident, steeds waardig is en met 'n doel op aarde geplaas is, moet as 'n ontwyfelbare gegewe in sy denkstelsel vasgepen word. Om dus die Evangeliese en sosiale aspekte as sekondêr te stel en dit eers te hanteer nadat die tegniese, die finansieële en die mediese afgehandel is, is onverantwoordelik. Dit hou 'n hoë risiko in om 'n boetie te verloor wat slegs 'n onwillige slagoffer was van 'n situasie waarvoor hy glad nie gesoek het nie.
- Die feit dat Stof die volle realiteit van die saak, wat ook die geestelike oorsake in invloede insluit, weergegee het: In sy verslag het Stof verwys na die geestelike reëlm waar daar deurlopend aanvalle op veral die regverdiges sal wees, vanuit satan en sy trawante se ryk. Hierdie insident sou nie gebeur het as as daar nie invloede vanuit die geestelike reëlm was, wat waarskynlike dood oor die slagoffer gespreek het nie. Die verwysing na lucifer en sy trawante se invloed op die oorsaak van hierdie insident, is dus net so 'n geldige oorsaak as wat die tegniese disfunksie van 'n Evkomlyn sou kon wees. Die verslag sou dus totaal onvolledig en irelefant wees as die voorafgaande oorsaak van die insident, bloot net geïgnoreer sou word deur slegs die menslik-tegniese aan te spreek. As die werke van die bose nie ontmasker en publiek gemaak word nie, sal die gemeenskap nooit bewus word van die realiteit daarvan nie. Gevolglik sal die gemeenskap ook nie die noodsaaklikheid van die beskerming van Jesus Christus, wat gratis en vrylik beskikbaar is, begin besef nie.
- Die feit dat daar kruisverwysings was na die Afrikaanse tegniese terme waar die engelse tegniese terme ernstig tekort skiet: Afrikaans het bepaalde tegniese terme wat baie fyner detailbeskrywings van tegniese apparaat en hulle onderdele beskryf. As voorbeeld kan Stof noem dat die engelse woord "keybord" kan verwys na of 'n musiekinstrument of 'n rekenaarsleutelbord. In Afrikaans is die terme duidelik onderskei deur die woorde "klawerbord" en "sleutelbord", wat dus geen twyfel by die leser laat oor die skrywer se bedoeling nie. Daarom is die verwysing na "alternating current" aangevul met die term 'wisselstroom" en die term "direct current" aangevul met die term "gelykstroom". So ook die presies Afrikaanse term na 'n spesifieke verskynsel waarvoor daar in engels slegs die kollektiewe term "corona" bestaan. "Corona" is 'n term wat nie die detailbetekenis van die detail van 'n bepaalde tegniese verskynsel, na vore kan bring nie. Die beswaar teen die gebruik van die Afrikaanse terme ter wille van duidelikheid, kon dus julle saak benadeel het aangesien die wat dit gaan aanhoor, nie die presiese bedoeling van die verwysing sou begryp nie.
- Die feit dat die verslag afgesluit word met 'n seënwens en 'n vertroue-stelling, soos wat Stof in al sy korrespondensie doen: Soos vroeër genoem, ag Stof elke medeskepsel wat sy Vader geskep het as 'n gelyke. Stof sou dus nie self kon aanspraak maak op enige seën en voorsiening, as hy nie ook hierdie gawes aan sy gelyke broers ook gun nie. Daarom het elkeen van ons wat as naasbestaandes geskep is, die plig om mekaar so gereeld as moontlik, en so opreg soos wat menslik moontlik is, oorvloedinge seën toe te wens. Die gesproke (en in vandag se lewe, ook die geskrewe) woord het krag. Dit kan lewe spreek, maar ongelukkig ook dood spreek. Versuim om lewe te spreek, is 'n manier om indirek, dood te spreek. Daarom moet en sal Stof, uit waardering en uit respek vir sy gelykgeskapenes, by elke geleentheid lewe oor hulle spreek. En dit sluit julle, boeties Mike en Zahir, beslis in. En derhalwe, MAG Stof nie weier om dit te spreek nie, want dit sou op opperste ongehoorsaamheid teenoor sy Skepper, sowel as disrespek teenoor sy naaste neerkom.
- Die verwerping van Stof se aanbod om Geestelike en sosiale ondersteuning van die slagoffer: Boetie Zahir, jy het in vroeër vandag se telefoongesprek gesê dat jy nie Stof se plig ag om die slagoffer te ondersteun nie. Jy het verwys na vyftien mediese verslae en psigiaters en 'n verskeidenheid ander soortgelyke rolspelers se verslae. En daardeur, eintlik dit aan Stof gestel dat jy nie sy "minderwaardige?" inset nodig ag nie. Dít, terwyl Stof se profesionele registrasienommers in hierdie verband, duidelik op die verslag wat reg onder jou neus was, gemeld word. Stof is egter deur 'n professionele eed, maar ook uit 'n bereidheid weens dankbaarheid, gebind daartoe om deel te wees van die oplossing van elke situasie waar hy betrokke raak. En daardie taak mag hy nie versaak nie. Die vraag na inligting oor die slagoffer se kontakbesonderhede is dus nie 'n opsionele versoek nie, maar 'n noodsaaklike vereiste ten einde hierdie saak in elke aspek daarvan, suksesvol opgelos te sien.
Die groot wanpersepsie wat in die westerse beskawing heers, is dat 'n hofuitspaak deur 'n menslike landdros of regter, die afhandeling van 'n saak is en dit onvoorwaardelik afsluit. Die hartseer realiteit is egter dat geen hofuitspraak ooit harmonie tussen partye bring nie. Dit herstel nie menseverhoudings nie. Dit dra ook zero by tot Geestelike en sosiale herstel. Tydens 'n wêreldse hofsaak word slegs 'n baie klein deeltjie van 'n situasie, naamlik die fisiese en materieële aangespreek. Daar sal altyd na 'n hofsaak, 'n gevolglike teleurstelling wees oor die uitslag by een van die partye, hetsy dit regverdig was aldan nie. Geen hof sal ooit alle partye se geheelharmonie herstel nie. Inteendeel, na elke saak sal daar by van die betrokkenes 'n bitter nasmaak agterbly.
Amptenare in howe ontvang slegs van tyd tot tyd, 'n klein brokkie gesag van Vader om bepaalde take te verrig. Die hartseer is dikwels, soos ook in hierdie geval gepoog is, dat daar dikwels probeer word om hierdie brokkie geleende gesag, teen die Gewer daarvan te gebruik. Daarom is dit oneties en onaanvaarbaar dat daar in die naam van menslike howe, aangedring word dat verslae wat die totale en omvang van 'n insident aanspreek, sodanig af te water dat dit koud, veroordelend, en selfs hatig sal wees.
En aan elkeen wat na aanleiding van die gewysigde verslag, soos wat ander dit gewysig het tot koud, harteloos en gevoelloos, die indruk gekry het dat Stof hulle nie na waarde ag nie, sy apologie namens dié wat die wysigings gedoen het sowel as homself. Hierdie veranderings en weglatings dra nie Stof se goedkeuring weg nie en self het hy weinig beheer gehad daaroor. Stof se volledige verslag, sou aan elke leser die gerusstelling gee dat hulle as waardige medeskepsels geäg word. Uit die oorspronklike verslag sou dit ook duidelik blyk dat die verslag in die gees van harmonieskepping tussen alle betrokke partye geskryf is, soos wat ons elkeen se roeping op hierdie aarde is.
Boeties Mike en Zahir, die finale doel van hierdie ope brief is om 'n hand van vriendskap en vergifnis uit te reik. Om julle te versoek om die totale prentjie te sien rondom elke situasie. Om, waar 'n medemens betrokke is nie aanbiedinge om die geheeloplossing te vergemaklik, van die hand te wys nie. Ek deel graag per geleentheid 'n kaffiënbesoedelde kookwatertjie met julle. Ek vertrou ook dat hierdie hele hartseer insident, nie enige negatiewe impak op ons wedersydse harmonie sal hê nie. Voel dus vry om te deel. Om te deel, is bevrydend. En om vry te word, is immers die toppunt van die verlossende Evangelie van Jesus Christus.
Julle het my kontakbesonderhede. Gesels gerus met my.
Seënwense, Stof
.
|