Vaaltyn. ‘n Donkie gebore as donkie en wat sal sterf as donkie. ‘n Donkie wat ‘n gesin se wa sleep van die dorp na die kaia. ‘n Donkie op wie se verjaardag ‘n klomp romantiese siele allerlei beloftes aan mekaar maak sonder om die langtermyn implikasie van hul woorde te begryp. ‘n Donkie wat ‘n bakkiespomp kan draai, en so water vir mens en dier uit ‘n put kan pomp. Hy mag ‘n donkie wees, maar hy is gebore met ‘n doel. Hy kan nuttig wees vir party, ‘n irritasie vir ander. Deur ‘n donkie te wees kan hy dien. Geskep om die dinge te doen wat ander nie wil nie. Daarom ‘n besondere wese, ‘n lasdier wat bereid is om ‘n ander se las te dra. Sonder om te kla, trek hy dit wat jy nie wou trek nie, of die son skyn en of dit reën. In wese deur sommige gehaat omdat hy nie vinnig is nie, maar steeds in aanvraag vir sy krag. Nederig, lieftallig. Soms geniepsig as jy daarvoor gesoek het.
Werk jy in ‘n kantoor waar lugreëlaars jou koel hou, waar ‘n versnappering net ‘n interkomknoppie ver is? Jy wat hierdie weelde rondom jou versamel het, waarom raak jy ontsteld as iemand jou vra om ‘n las te help dra. Waarom verlaag jouself tot benede ‘n donkie, deur te weier om te dien. Danksy skepsels soos jy, kry ‘n donkie weer status, sien mense hom raak vir die lasdraer wat hy is, sonder dat hy kla.
Weet jy dat dit ‘n donkie is wat vir Billeam vermaan het toe hy die pad byster geraak het? Weet jy dat dit ‘n donkie was wat vir Jesus in Jerusalem ingedra het? Dat dit ‘n donkie is wat bo blink perde, die eer had om ons Saligmaker te kon dra op Sy eretog?
Dan is dit meteens duidelik waarom die donkie gekies is om hierdie eretaak te verrig. Jesus het gekom om ons sondelas van ons af te neem, ons swaardra, syne te maak. Daarom verwag Hy ook van ons om mekaar se laste te dra, en op hierdie manier, mekaar se donkies te wees. Dan is dit duidelik waarom Hy in Sy oomblik van glorie, gesien wou wees op die rug van ‘n lasdier, ‘n gewillige dienaar wat dit waardig was om Hom te dra.