Het jy al op jou knië gegaan om 'n tydjie saam met God te soek, en dan 'n rukkie later agtergekom dat jou gedagtes gekaap is en oraloor rondloop, behalwe by God self? Deel asseblief in "Splintergedagtes" ook my ervaring van hierdie probleem.
Splintergedagtes
In eerbied en stilte sak ek neer op my knië en reik na U. Ek wil vir so baie dankie sê, so baie bely, so baie afsmeek. Ek wil ook die woordelose tye met U beleef waarin U my net 'n drukkie gee, my verseker van U teenwoordigheid. Dan bevind ek my skielik in 'n werkwinkel, besig met 'n vakmanprobleem. Ek skrik, want hoe kom dit gebeur dat ek U spoor in hierdie tydjie so vinnig verlaat het. 'n Rukkie later is ek al weer besig om 'n wraakgesprek te voer wat geen bydrae tot ons kommunikasie kan lewer nie. Net sodra ek dan weer aan U knie is, en ek weer besig om allerlei planne te beraam om 'n paar aardse goed gedoen te kry. Dan besef ek dat hierdie andersins skadelose dinge wat soveel nut op 'n meer geleë tyd kan hê, gestuur word om op hierdie oomblik my gesprek met U te kom saboteer. Slegs deur U genade kan ek dit oorwin, en weer volkome met U kommunikeer. Dankie dat U hierdie splinters self besweer, my leer om hulle al hoe minder toe te laat. Wees my genadig sodat ek dit uiteindelik heeltemal sal kan oorwin.