stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Teddiebeer
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Vandag is dit net my Here, ek en jy. Jou sagte snoetjie druk styf teen my benoude bors. ‘n Effe skewe voetjie steek onder my arm uit. Jou verweerde oortjie is oop en jou groot hart absorbeer sonder verwyt my hartseer. Jy knus jouself al stywer teen my vas hoe rouer my pyn raak. In ‘n wêreld vol haat en gierigheid is jy die enigte een wat nog iets van jouself gee. Jy is al wat oorbly van sagtheid en omgee. Jy verwyt nie, jy verwerp my nie. Jy sê nie vir my dat ek nie goed genoeg is nie. Hoe dieper die seer, hoe groter word jou begrip. Waar mense my wil stenig en doodmaak, troos jou geduld en gewillige oor my wese. Jy verstaan sonder om diepsnydende vrae te vra en my verder onder verdenking te plaas. Ek begin te wonder waarom mense so wreed kan wees. Waarom mense ‘n medemens weggooi as sy energie opgebruik is. As daar nie meer iets in hom oor is wat hulle ongenadiglik kan tap en dreineer tot net ‘n meganisme oorbly wat geen psige meer het nie. Jy eis nie, jy tap nie. Jy vul stadig maar seker weer die gat waar my psige was. As ander ook maar soos jy wil wees en ook weer iets wil terugsit. Maar ek is leeg. Leegetap deur mense. Ek kan nie meer voort nie. Dan kyk ek weer na jou kraalogies en koesterende snoetjie, jou voetjie waar die opperateur bietjie haastig was, en ek is seker ek sien jy knipoog vir my. Stadig maar seker begin die son deur die gordyn sypel, word ek bewus van ‘n straaljie lig wat op my gesig speel, en dan wys jy my die dag, die hoop wat weer sal kom. Dankie dat daar teddiebere soos jy is wat meer verstaan as wat mense ooit sal kan begryp, al is jou voetjie skeef en jou arms te kort om my ‘n drukkie te gee. Mag die persoon wat die eerste teddiebeer uitgedink het, ‘n salige ewige rus hê. Hy het vir die mensdom meer gedoen as wat enige ingenieur of fisikus ooit kon. Ek vertrou dat die teddiebeer nooit ‘n bedreigde spesie sal word nie, want dan sal die laaste omgee in hierdie aardse bestaan ook tot niet wees.

© Stof 2001/06/02

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

.