stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Slapende seuntjie
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Toe my seuntjie drie jaar oud was, het hy een aand by my voete aan die slaap geraak terwyl ek in my kantoor sit en werk het.. Die manier waarop hy teen my vasgeknus het, het my besiel om die stuk "Slapende seuntjie" te skryf. Dalk is daar grepies uit jou lewe ook wat jy hierin sal herken.


Slapende seuntjie

Hy is drie jaar oud. Op sy kombersie en met sy kussing lê hy en slaap langs my lessenaar waar ek sit en spook met al die papierwerk en pyne van grootmenswees. Hy slaap so vreedsaam, rustig. Daar is niks wat hom pla nie, niks wat hom slapelose nagte en sooibrand gee nie. Hy is so sorgeloos. Ek sit en spook met syfers, administrasie, opvolgwerk, ag, soveel nagmerries dat ek wil ophou dink aan alles. Ek het lanklaas ordentlik kon slaap. Daar is altyd een of ander grootmensprobleem wat my slaap versteur of my hart laat klop asof hy my hele lyf vol spring. As ek so na hierdie klein seuntjie kyk verlang ek na ‘n tikkie sorgeloosheid. Ek sien in hom ‘n volkome vertroue dat sy pa en ma vir hom sal sorg. As hy ‘n behoefte het, hoef hy net te praat. As hy bang is, kan hy net sy arms uithou. As hy vaak is, raak hy aan die slaap net waar hy is. Pa sal hom mos bed toe dra. Ek wens ek kon so sorgvry wees. Selfs net een dag sonder sorge en seer leef. Maar die lewe is ongenadig. Mense roei mekaar uit. Hulle moor en steel. Hulle bedrieg hul naaste en belieg hulle families. Niemand weet meer wat hy van wie kan glo nie. Elkeen swoeg net voort op sy eie selfsugtige paadjie. Daar gaan nie ‘n dag om dat my hart ritme verloor en wild en deurmekaar klop as die wêreld en sy sieklike stelsels oor my pad kom nie. Waarom het ek ooit ouer as drie jaar oud geword, waarom al die sorge bygekry? Dis bloot net die Here se genade wat my van dag tot dag dra. Hy alleen ken die antwoorde. Dit is dikwels al wat my deurdra, die feit dat my hemelse Vader my nooit sal verlaat nie. Dis net Hy wat my nog die krag gee om voort te gaan. Eendag sal ek wel verstaan.


© Stof 2001/05/14

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

.