|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Die nag het by tye 'n besondere bekoring, bied soveel geleenthede wat die dag nie bied nie. Lees gerus in "Donker nag" hoe die duister op sy unieke manier ook salwend kan wees.
Donker nag
As die nag op sy donkerste is en die maan sku wegkruip agter die wolke betree ek ‘n wêreld waarin gedagtes begin loskom. Vrese wat in my diepste dieptes weggesteek word kom na vore. Dit wat agter maskers versteek is, kruip genadeloos deur die krake in die maskers. Geraamtes klim knarsend uit 'n weggestaakte kas en herhinder my aan elke enkele ding wat ek graag sou wou vergeet.
Ook die mooi dinge, die genadegawes in my lewe en die seëninge wat ek geniet is nou vars in my geheue.
My masker hang teen die muur. As ek nou met al hierdie feite ‘n opsomming maak en dit opdra aan die Here is dit seker die tyd waarin ek die beste met my Skepper kan kommunikeer. Teenoor Hom hoef ek geen masker te dra nie. Ek hoef nie meer my geraamtes dig te hou nie. Ek hoef nie my gedagtes te sensor omdat dit dalk mense mag skok nie. My Skepper verstaan en vergewe. Hy is oneindig lief vir my en wil my nie laat verlore raak of laat sink nie. Ek besef in hierdie donker nagure dat Hy selfs deur die donker naglug kan dring en Sy hand van genade oor my kom hou. Die bedreigings wat in die dag so verskriklik lyk en elke oomblik dreig om my laaste greintjie psigiese energie te verorber lyk nou so klein teen my Skepper se hand. In hierdie donker nagure wil Hy my Sy almag toon en my verseker van Sy liefde vir ‘n sondaar. Hy verdryf die vaak en gee my sy beste kommuniksielyn. Dit voel soos ‘n tweegesprek en ek stort uit en kla, sê dankie, en loof Hom, spreek my donkerste vrese uit en maak my diepste kiste vir Hom oop. Ek smeek, ek wonder, wil soms selfs verwyt.
|
|
Dan wys Hy my die mooi in my lewe. My gesondheid, my gesin, my klein maar getroue vriendekring. Hy teken vir my ‘n kaart van my lewe en verklaar die kronkelpaaie. Hy wys my die slaggate en blinde hoeke waarom Hy my veilig gedra het. Hy wys my die stil wegkruiphoekies wat Hy voorsien het toe die swart hond my bedreig het. Hy neem my hand en lei my na al die knus nuwe hoekies in Sy verrassende genadeplan. Meteens verstaan ek ook tog iets, van die doel agter die draaie wat my lewe geloop het. In elke hoekie en draaitjie het Hy vir my nog ‘n bietjie padkos, nog ‘n bietjie kennis, nog ‘n bietjie toerusting gegee. Al was dit net halfwegstasies, was dit nodig om my elke keer iets te leer.
Nou neem Hy my hand en wys my waar ek vandag gedwaal het, en ek skrik. Ek was byna in die afgrond, en dis bloot net Sy genade wat my daaruit gehou het. Daarmee saam verseker Hy my egter dat dit reeds vergewe is.
Dan begin die ingebore menslike selfsug wys. In amper elke aksie is daar feitlik ‘n stukkie selfsug. Dit laat my skrik. Selfs die klein bietjie naastediens het selfsugtige momente. Dan tref my kleinheid my en besef ek dat ek elke dag oomblik vir oomblik Sy hand moet hou en oplet as hy my uit ‘n situasie uitruk. Dan moet ek nie soos ‘n donkie voortjaag op ‘n pad vol dorings en pyn nie. Ek besef dan dat ek soveel keer vir Hom vra waarom, terwyl ek eintlik vir myself moet vra waarom ek Sy leiding dikwels so minag. Die dwaalspore is nie Sy wil nie, dis bloot my eie hardhorendheid vir Sy leiding.
Dan tref die grootheid van Sy genade my weer. Ek is so ontrou teenoor Hom om elke hoekie en draaitjie en Hy bly genadig. Aan Sy vergifnis is nie einde nie!. Ek steek Hom selfs soms in die rug, net sodat Hy my daarna weer uit een of ander situasie waarin ek myself alweer gedompel het, kom red. Kan dit wees dat Sy genade so ontsaglik groot is dat dit selfs my ontrouheid vergewe en net aanhou gee en gee. Ek en my Skepper in gesprek, dis so ongelooflik!
Hierdie nag moet nie einde kry nie. Ek smeek Hom om ‘n beter oordeel. Ek vra Hom om my getrouer te maak en my verantwoordelikheidsin sterker. Ek vra vergifnis vir die tye wat ek sommer net agter my eie oordeel aanploeter om daarna weer in die modder vas te val. Ek vra vergifnis vir die min tyd wat ek afstaan aan Hom en Sy koninkryk terwyl Hy elke dag die hele dag aan my sy is.
Ondanks die min of dikwels niks wat ek terugploeg in Sy Ryk, bly Sy genade my net elke dag oorspoel. Dan besef ek dat die enkele dinge wat ek as sulke groot struikelblokke beskou, deel van Sy skepping is en Hy volkome beheer daaroor het. Ek leer om nie moed te verloor omdat menslike faktore my in ‘n donker draaikolk intrek nie. Ek gee my sorge oor en weet Hy sal op Sy tyd voorsien en my uit hierdie moeilike tyd verlos. Dan besef ek skielik hoe ondankbaar ons as mens nog altyd deur die lewe gegaan het. Ek kyk na die kaart wat Hy van my lewe geteken het en sien hoe Hy my nog elke keer betyds van al die afgronde gered het. Ek sien hoedat Sy tydsberekening in elke geval nooit te vroeg was sodat ek die les moes mis nie, maar altyd betyds om my te red.
Meteens gaan my oë oop vir die grootheid van Sy genade en die onvoorwaardelike liefde en omgee wat ek daagliks, uurliks, elke minuut van Hom ontvang en ek skaam my vir my ongeloof in hierdie put waarin ek my nou bevind. Ek moet nou net onvoorwaardelik weer ‘n nuwe oorgawe maak en glo dat Hy groter is as die pyne van hierdie wêreld is. Ek moet nou, en nie ‘n minuut later nie, sy plan met vandag ook aanvaar as deel van sy genadige plan met my aanvaar en berus in wat Hy vir my beplan het.
Dan begin die duister wyk en begin ek met ‘n blymoedigheid weet dat Hy sy uitkoms reeds vir my gereed het en net wag vir die regte oomblik om dit vir my te gee. Ek begin dankie sê en besef meteens watter onbeskryflike voorreg ek het om ‘n Vader soos Hy te hê. Dis so onbeskryflik om as ‘n sondige mens soveel onverdiende genade te ontvang.
Ek kyk weer na die donker wolke, die maan wat tog duim vir duim begin uitkruip en meteens is hierdie donker nag gevul met ‘n Hemelse lig wat alle menslike duister verdryf. Die donker agtergrond was nodig om die grootsheid van Sy lig te wys.
Eendag sal daar weer ‘n donker nag wees, en dan sal Sy lig weer en weer soveel groter wees as al die duister. Hierdie donker nag is gehul in ‘n gloed van Hemelse lig wat ‘n genadige Vader aan sy sondige kind gegee het. Ek het weer vrede. Dankie Vader, U is so groot en almagtig!
My liggaam begin smag na rus.. Ek weet as ek nou gaan slaap, sal ek kan uitrus in die wete dat my Vader se hand oor my is. Ek hoef nie nou te gaan wakkerlê as gevolg van sorge nie, want ek het my sorge vir Hom gegee. Dankie Here vir ‘n heerlike nagrus onder U vleuel waarna ek nou kan uitsien!
.
|