stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Maak my diensbaar
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

In 'n tyd waar weinig dinge sin maak, kom daar dikwels nog dinge wat die totale situasie nog swarter maak. Dade wat die bietjie genesing wat dalk reeds kon plaasvind, met een wrede slag vernietig. Daaruit is "Maak my diensbaar" gebore. Omdat ek ervaar het hoe dit voel om aanhoudend teruggeskeur te word na dieptes wat reeds oorwin kon wees, moes ek net die saak ook met my Vader uitklaar. Omdat jy dalk tans binne in moeilike omstandigdhede is, of dalk eendag daar sal beland, wil ek dit graag met jou deel.


Maak my diensbaar

U het my midde in 'n beproewingstyd geplaas. Dit sou nie sonder doel wees nie. As ek dan hierna weer tot diens van ander moet wees, het U my ook deur toe te laat dat ander my gewetenloos verniel, geleer hoe om hulle wat U oor my pad gestuur het, te dien sonder om hulle te verskrik.

Ek het baie seer gekry en 'n paar keer gesterf omdat daar 'n verwarring by ander ontstaan het oor die verskil tussen help dra, en blatant inmeng en daardeur alle genesing wat kon plaasvind, tot niet maak. Elke keer se trap, elke keer se krap, vernietig in 'n oomblik dit wat weke, dalk maande geneem het om te bereik.

Help my om 'n veilige punt vir andere te wees. Om elke keer as hy wat seer het my nader, eers op my knië om wysheid by U te vra om die deel volgens U wil te hanteer. Dat ek nie pyn wat in vertroue aan my meegedeel is, sal uitblaker aan enige iemand behalwe Uself nie. Ook nie toelaat dat ander dit kom uitsnuffel nie.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Die voorreg om diensbaar te kan wees is te groot om dit op so 'n roekelose wyse op die spel te plaas. As hy wat pyn het, dan graag wil hê dat ek iets oordra aan ander, dat ek seker sal maak dat dit hulle is wat hy bedoel het. Om daarna dit op so 'n wyse te doen dat dit nie afbrekend en sensasiesoekend is nie. Om ook die ontvanger van die inligting, deeglik bewus te maak dat ons die voorreg het om 'n stukkie siel van 'n medemens te deel, en dit daarom met die nodige respek te behandel. Weerhou my daarvan om ter enige tyd te oordeel, ongeag wat die persoon ookal sou gedoen het.

Die oordeel kom my nie toe nie. Weerhou my daarvan om in die geringste oomblik van swakheid, eers te dink daaraan om 'n stertjie by te las of 'n sousie oor die feite te gooi. Weerhou my daarvan om slim kitsantwoorde te wil gee, te maak of ek meer van sy situasie weet of verstaan as hyself. Maak my oop vir U Heilige Gees en lei my deur elke woord wat ek spreek. Dat ek sal verstaan as hy seer het wat eers tussen U en hom hanteer moet word, en nie sal enige druk van my kant af plaas om voortydig 'n sweer te laat ryp word wat nog nie daarvoor bestem was nie. As daar dan genesing kom, help asseblief dat die proses nog steeds veilig sal bly, en dat ek nooit in die versoeking mag kom om enige van hierdie seer dinge wat ek die voorreg had om te deel, as wapen te gebruik, of enigsins verder uit te blaker nie. Weerhou my daarvan om ooit as die genesing voltooi is, in eiewaan te roem dat ek deel daarvan was.

Maak my eerder dankbaar dat ek die voorreg had om deel van U plan te kon wees. Hou my nederig en toeganklik. Help my om nooit opdringerig en arogant te word omdat ek die voorreg had om iets in U koninkryk te kon beteken nie.

Laat my eerder toe om U onvoorwaardelik te kan loof vir die voorreg om, ten spyte van my menslikheid en tekortkominge, tog waardig genoeg geäg te kon wees, om deur U gebruik te kon word. Soli Deo Gloria!

© Stof 2001/12/04
.