stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Vergifnis
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

In my eiewaan en oogklapbestaan het ek so dikwels ter wille van 'n geringe materieële gewin, 'n medemens vertrap en hom afgeskaal tot bloot 'n instrument. Partykeer wetende dat ek hom skade aandoen, voortgestoom en 'n moontlike lewenslange vriend deur ydele motiewe binne oomblikke verloor. Dan ruk my gewete my tot stilstand. Wat het jy aangevang!!!? Jy het sopas 'n medemens geminag. Waarom is jy dan verbaas dat hy nou vir jou kwaad is.

Tog moet daar vergifnis kom. Steek jou trots in jou sak. Vra eers vergifnis by God. Gaan dan in nederigheid na hom wat jy verontreg het. As jy opreg bedoel wat jy in jou vredesending aan hom sê, gee kans dat jou belydenis kan insink. Al sou hy jou dan minder vleiende dinge toevoeg, moenie daaroor op jou perdjie spring nie. Verdra dit in nederigheid. Maak seker dat jy opreg bedoel wat jy gesê het en dat dit nie bloot ydele taal is nie. Dis nie maklik om te vergewe as dit nie uit die hart kom en deur God geinspireer is nie. Bid dus ook Hy ook die nodige versoenende gesindheid sal plant by hom wat jy verontreg het. Slegs dan sal daar volkome vergifnis wedersyds wees nie.

'n Deurslaggewende faktor as jy begeer dat iemand jou vergewe, is dat jy ook hulle teen wie jy self 'n wrok koester, vergewe. Jy kan nie vergifnis verwag as jy nie self bereid is om ook te vergewe nie.

Onthou dat Jesus so lief is vir jou, dat Hy om vergifnis by die Vader vir jou te verkry, sy eie lewe gegee het. Vergifnis is dus nie goedkoop nie, maar dit is bevrydend. Nadat wedersydse vergifnis plaasgevind het, wis dan die insident uit, en beleef die bevrydende genade wat jou lewe 'n hele paar skakerings ligter sal maak.

© Stof 2002/03/28

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

.