Moeg, na 'n lang dag vol moleste gaan maak ek 'n draai by 'n goeie vriend. Ek sak in sy stoel neer en haal vir die eerste keer in 'n lang tyd weer asem. Hy verdwyn in sy kombuis in. Oomblikke later kom hy daar uit met 'n bak vol bredie. Gemaak met gewone goed, maar saamgestel soos wat geen bredie nog ooit gedokumenteer is in 'n respteboek nie. My moeë hande het die lepel geneem, en ek het die vreugde skeppie vir skeppie geniet. Geen restaurant kon nog ooit hierdie resep ewenaar nie. Geen franse sjef sal dit ooit kan namaak nie. Dit het gekom van 'n mens wat meer menswaardigheid en omgee in hom het as party snobbuurte se inwoners in totaal. Die bak kos het uit die hart gekom, sorgvuldig saamgestel met eensame hande wat so dikwels alleen en verworpe sy dae en nagte moet slyt. Dan besef ek dat die grootste vyfgangmaaltyd met al die foefies daarmee saam, nooit so suksesvol sal wees soos 'n basiese, ongedokumenteerde, maar meesterlike bone-bredie wat uit die resepteboek van die hart kom nie.