Jy hou my vas. Jy deel jou wese met my. Jy belowe dat jy deur gesondheid en siekte, deur braaivleis en pap-eet, deur vreugde en pyn by my sal wees. Jy sê dat my wese vir jou kosbaar is, en dat jy my liefhet vir wat ek is. Dat my menslike onvolmaaktheid en breekbare psige jou nie weerhou daarvan om getrou te wees nie.
Maar daar kom dalk ‘n dag dat my psige dalk weer breek, en my lewensenergie vir ‘n tyd sal kwyn. ‘n Tyd wat geld skraps sal wees en my lewensaktiwieit sal stagneer. Dan kan my klokkie nie helder lui nie, en my masker sal my teen die wrede wêreld moet beskerm. Dan sal jy die enigste mens wees wat die gebroke siel agter die masker sal ken, en sal moet ondersteun.
Sal jy dan nog vir my omgee, my help om te genees, saam met my met die minimum materié oor die weg kan kom en my help oorwin tot daar weer ‘n heerlike oorwinningslig van genesing vir ons skyn? Of sal jy my dan as ‘n lamsak afmaak wat te sleg is om te bestaan, wat jou tot ‘n verleentheid vir ander maak? Sal jy my dan dalk soos ‘n ongewensde klein diertjie langs die pad aflaai om daar te sterf in die winterkoue?
As ek swak is, sal jy kan sterk wees? Sal jy nog jou beloftes onthou, of sal jy ter wille van materieële oorwegings daarvan vergeet en my weggooi op ‘n punt waar ek jou die nodigste sal hê, die meeste op jou moet kan staatmaak? Sal jy my nog vashou, of sal jy my skop?
Waarom vra ek hierdie pynlike dinge? Omdat jy my sopas weggegooi het, langs die pad gelos het sonder ‘n bakkie kos of water, met net my Hemelse Vader se genade wat my nog kan help om weer sin hieruit te probeer maak.