|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Ek sien jou staan in 'n hoekie. Tussen duisende mense is jy alleen. Die skares stap verby jou, kwetter oor hulle eie klein leefruimtetjies. So besig om oor onbenullighede raadsvergaderings te hou. Jou lewensbestemming is nie vir hulle 'n faktor nie. Of jy more nog leef, en of jy vannaand heengaan, skeel hul min. Jy stap met belangstellingloos deur die hokke. Die diere is vir jou net 'n vae ilusie.
Jou pakkie skyfies swaai saam met jou arm, lankal vergete. 'n Enkeling tussen 'n menigte. Minstens darem nie vandag vasgevang in jou klein hokkie nie.
Maar vanaand gaan jy terug, maak die deur agter jou toe. Dan beweeg die skares buitekant jou deur verby, en neem nie eens kennis dat hier binne 'n medemens vasgevang sit in die greep van eensaamheid nie.
Die skemer word donker, elke minuut word 'n uur. Die slapelose nagtelike ure lê soos 'n swart monster voor jou. Buite hoor jy die rumoer van feesvierende menigstes wat vir geen spesifieke rede nie, partytjie hou. Bestuurders vol bottelbrawade slinger deur die strate, jong meisies met skrapse mini's en uitpeultoppies staan op die hoeke, en by die kroeg op grondvloer net hier onder, word mannemoed uit gefortifiseerde vog geskep.
Die stortwater voel hard en krapperig. Die, op die oog af, sagte bed voel vol knoppe en terg jou elke keer as jy hoop om aan die slaap te raak. Uiteindelik raak jy aan die slaap, na ure se woel in 'n omgekrapte bed wat getuig van onrus.
Dan sing daar 'n voëltjie. Die slaapwalms is nog vars en die rustelose slaap het nie veel rus gebring nie. Opstaantyd vir ander. Jy druk weer jou kop onder die kussing in en verwens die voëltjie wat dink dat jy net soos hy moet voel.
|
|
Nog 'n dag lê voor, nog 'n klomp ure wat omgeswoeg en verbygekry moet word. Dan hoor jy die rumoer van massas wat die strate invaar, opsoek na nog oppervlakkige plesier, vasgevang in roetine en siellose gesprekke. Weer te besig om hulle te steur aan jou eensaamheid, jou soeke na iemand wat omgee.
Nog 'n dag het begin, en dit sal seker ook weer verbygaan, net soos more sal kom en gaan, en volgende week, en volgende maand. Tot eendag wat jy wel genade mag ontvang om uit hierdie sinnelose roetine te ontsnap, en weer sin te sien.
Wie is jy, en wat is dit wat ek en jy deel?
.
|