|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Vanaand is Vrydagaand, gesinsaand. In die stoel langs my in die gehoorsaal is ‘n vreemdeling. Ek kyk om my heen en sien ‘n verskeidenheid mense, feitlik almal in pare en besig om hulle in mekaar se teenwoordigheid te verlustig. Elke paar ‘n eiland tussen ‘n menigte, met die menigte bloot as agtergrond. Ek kyk tog hoopvol rond. Dalk is sy tog hier iewers.
Maar ek mors my tyd en energie. Sy is nie daar nie. Ook nie my kinders nie. Sy is vanaand in ‘n ander se arms, in ‘n ander huis, dalk in ‘n groter, ‘n blinker voertuig.
Ek het niemand om my hand te neem, om net nou en dan in my oë te kyk en vir my te verseker dat ons vir mekaar bedoel is nie. Eensaam tussen baie, stukkend tussen heel mense. Dan besef ek net weer, ek moet tussen die gehoor uitbly, daar waar mense vir mekaar bestaan.
Ek moet eerder terugkeer na die glaskas van die tegnikus, daar waar ek minstens met my vingers op die konsole, ‘n span vorm met die mengbank, randapparaat en ligdempers. Ek mag nie weer myself in ‘n gehoor begewe nie, want dit is ‘n plek vir mense wat heel is, wat ‘n maat het wat omgee. In die glaskas word ek en die toerusting opgepas deur ‘n sekuriteitswag, en is daar nie lastige vrae wat antwoorde soek nie. Daar is nie tyd om die inhoud van die opvoering in te neem nie, want ek moet al my aandag spandeer om te sorg dat die klank reg is, die ligte op tyd en die effekte korrek. Dan maak dit nie saak om niemand langs my te sien nie.
Maar deur in die glaskas te bly wegkruip, al hoe meer van mense af weg te vlug gaan my uiteindelik doodmaak. Tog, kan ek nie enige mens op hierdie oomblik onvoorwaardelik vertrou nie. Tog hou ek te dikwels ‘n masker van gesels en vrolikheid voor, sodat die flenters wat dalk nog van my mag oorwees, nie sigbaar is vir die skare nie.
|
|
En vanaand, as ek die deur toetrek, my maskers aan ‘n spyker agter die deur hang, is dit net ek en my Vader. Dan praat ons vir ure lank. Dan weet ek is ek in die geselsskap van Iemand wat maar alles mag weet, eintlik, reeds alles weet, Dan mag die flarde wat nog punte soek om weer aanmekaar te groei, weer uitroep om genade, en weet dat Hy in Sy ryke raadsplan ook ‘n antwoord het.
Maar te gou kom die dag, dan moet ek weer my masker opsit, maak of ek geen sorge het nie, ‘n medemens bedrieg omdat hy verwag om te hoor “dit gaan goed”. Ek hou die tyd dop, en weet dat Sy meesterlike antwoord nie meer vêr is nie. Dan verdra ek maar nog ‘n dag, nog ‘n nag, want elke nag en elke dag is tog ‘n dag nader aan ‘n antwoord.
.
|