stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Heinings
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Tussen Nylstroom en Naboomspruit is daar ‘n grondpad wat deur ‘n beeldskone pas gaan vir die eerste deel. Die pad kruis ‘n rivier op enkele plekke, en daar is die natuurskoon so dat ‘n mens nie anders as om ‘n oomblik daar te vertoef en so ook vir ‘n tydjie nader aan die natuur te kom nie. Juis daar, so in die groen, kom ‘n mens nader aan jou Skepper as wat jy ooit kon dink. Sy stem praat daar deur die water, die lower. Dit is daar waar ‘n mens sonder inspanning kan bid, kan deel dié dinge wat andersins nie eers met God gedeel word nie.

‘n Paar van die rivierkruisings is onlangs afgeskort met heinings. Die skoonheid van die water en die lower word nou net vanaf ‘n afstand waargeneem. Daarmee saam word ‘n afstand tussen mens en natuur geskep. En dan ook die spontane kommunikasie met God, dit wat ek aanvanklik daar gaan soek het.

So bou ons heinings, elke dag. Deur woorde en dade skep ek afstand tussen my en ‘n medemens, tussen my en my Skepper. Deur ‘n gejaag na ‘n wind bou ons heinings tussen onsself en hulle wat ons nodig het, hulle vir wie ons ‘n roeping ontvang het om eintlik te help dra. Deur heinings van haas verdryf ons ‘n medemens in nood, stoot ons hom dieper in die sloot in en verhaas sy ondergang.

Deur minder heinings te bou, eerliker om te gee en minder verskuilde motiewe te bedryf, kan elkeen van ons weer ‘n naaste word vir ‘n medemens, daardie iemand wat hy of sy so nodig het in ‘n tyd van nood. Baie woorde is nie ‘n vereiste nie. Ook nie allerlei wyshede en antwoorde nie. Bloot deur jou tyd, jou oor en jou hart te gee, breek jy heinings af wat staan tussen genesing en ondergang. Deur vir ‘n oomblik te vergeet van tydelike motiewe wat jou jaag, en ‘n vriend in nood te wees vir dié wat jou nodig het, is jy gehoorsaam aan jou skeppingsdoel. Laat ons dan die heinings afbreek, die buffers en maskers rondom ons harte afbreek, en so ons ware doel op aarde ten volle dien.

Mag jy so geseën word dat jy ‘n oor en ‘n hart vir menigtes mag wees.

© Stof 2002/05/10

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

.