Teen die deining van ‘n beeldskone heuwel langs ‘n asemrowende valei lê daar ‘n klein sproetjiesdorpie. Die landheer, salig onbewus van ‘n bewonderende blik op die landskap. Ligte sproetjies teen ‘n helling maak die huisies, langs die vleeswit strate. Elke sproetjie vertel sy eie verhaal, laat ‘n skrywersiel net nog ‘n verhaal raaksien. Elke paadjie lei sy eie roete. ‘n Roete van bewondering, van waardering, soms selfs ‘n roete van smagting. Die pad na die kruin is ongeskonde, is nog nie gereis nie. Die kruin, die kroon van die landskap se skoonheid, skuil in ‘n katoenwolk wat die skoonheid daarvan sorgvuldig verskuil. Die wat al die pad wou reis, is subtiel herlei. Die wat openlik hul bewondering uitgespreek het, versigtig opsy geskuif. Mag daar tog ‘n dag kom wanneer hierdie beeldskone roete wel gereis sal mag word, met die waardering, respek en bewondering wat dit waardig is. Mag die ontdekking van die skoonheid van die valei, die deining, die laaste eskarp, en dan die kruin, ‘n ervaring van ekstatiese bewondering wees. Die katoenwolk sal op daardie dag wegsweef, aan ‘n fyn geselekteerde reisiger die voorreg gee om die kruin te besoek. Dan sal die landskap blom tot sy volle glorie. Die lank verskuilde skoonheid daarvan sal dan vir die bevoorregde ontdekkingsreisiger ‘n hemelse openbaring wees. ‘n Reis daargestel deur opperste vertroue, deur ‘n hart wat geweet het dat, hiérdie reisiger, maar dié beperkte roete mag gereis het. Dan sal die landskap ‘n nuwe betekenis kry: vir die landheer, sowel as die reisiger. Daardie betekenis wat hulle saam sal koester, en as kosbaar, saam sal bewaar.