stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Status
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Jy sien dit in hospitaalgange, op skepe. In owerheidskantore en in geel voertuie. Agter ‘n toonbank by ‘n gebou met ‘n blou liggie. Status. Mense wat op ander trap omdat hulle ‘n lapstrepie meer op ‘n skouer dra, ‘n oorgeblaasde embleem op sy bors dra. Hierdie dinge wat wel nuttig kon wees binne ‘n bepaalde verband gaan na die draer daarvan se kop, en dan word alle ander geminag, verag. Dit wat aanvanklik as ‘n ordereëling daargestel is, word uit verband geruk.

Titels word ‘n groen lig om ander te vertrap en bo-oor te loop sonder gewete. Ek stel myself voor as Stof, en word as “meneer” aangespreek. So asof die spreker bang is dat iets van sy geraamtes gaan bekendword as hy my as individu sou erken.

‘n Lappie met simbole op ‘n skouer. In die hospitaal het dit vroeër ‘n persoon met sekere kwalifikasies aangedui. Mettertyd ontwikkel tot ‘n vrypas om te onderdruk. Sodra die draer dit vasknip, begin sy ook haar gesin verskree, haar familie ondergeskik stel. Dan verloor dit wat orde moes skep alle betekenis en word ‘n wanorde-reëling wat ‘n gesin knak.

‘n Persoon met ‘n wit hemp en ‘n denim. Dring aan om Kolonel genoem te word - deur hulle wat niks met sy professie te doen het nie. Hy kyk met ‘n minagting na ander en maak deur dikwels hoogs onbeskaafde optrede, seker dat sy status bekend moet raak. In die supermark vermy sy kollegas hom, want hy het in sy statusbewuste tonnelvisie, alle ander gawes begrawe.

In ‘n hof word ‘n persoon wat bly sit as ‘n landdros inkom, skeef aangekyk. Deur ‘n amptenaar aangespreek. Tog kyk niemand skeef op as ‘n hele gemeente sittend en skuifelend die teenwoordigheid van die Here betree nie. Word dit gestel dat dit onnodig is om vir ‘n landdros op te staan omdat daar nie meer vir die Here opgestaan word nie, word daar minagtend verwys na God as ‘n storietjie. En as ‘n mens daarna jou respek verloor vir ‘n stelsel wat nie meer sy bron van mag erken nie, word jyself uitgekryt vir skuim.

© Stof 2001/06/09

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

.