|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Uittreksel uit 'n reis: Januarie 2003
Ek was 'n reisiger - opsoek na die vermiste skakel wat my eksistensie weer essensie sou moes gee. Oppad na 'n bestemming wat nie werklik gedefinieer kan word nie.
Op die ingewing van die oomblik het ons van die N1 afgedraai na Bethulie. Al langs die spoorlyn met die grondpad tot in die dorp. Ons wou die begraafplaas besoek om familiegrafte op te spoor. 'n Paar blokke verder was dit duidelik dat ons die pad byster was.
Daar was jy: Besig om onkruid op die sypaadjie uit te skoffel. Jou ma aan die ander kant van die heining besig met 'n bedding. Toe ons stadiger ry, het jy ons op 'n manier uitgenooi om die roete by jou te kom vra. Jy het aan die motor se nommerplaat gesien ons kom uit Sodom en Gamorra, tog het jy spontaan gegroet. Toe ons jou vra waar die begraafplaas is, het jy ons vriendelik gehelp.
Met die wegry het jy ons 'n wyle agternagekyk en toe in die stof van die voertuig verdwyn. Jou bereidwilligheid om te help, jou vertroue in ons as vreemdelige het my verstom.
Toe begin ek dink: Droom jy soms oor die ander punt van die spoor wat deur Bethulie loop? Is die eindpunt van die grondpad vir jou ‘n misterie? Hier, waar jy gebore is en elke dag van jou lewe nog in die stofstrate vervulling gevind het. Jy is dertien jaar oud, met ‘n graaf in die hand. Jou hoogste ideaal op hierdie oomblik om die verdorde bossies uit te spit wat wel die Januarie hitte oorleef het. Weet jy dat die grondpad na die N1 gaan? Weet jy dat die spoor wat deur Bethulie loop, uiteindelik Johannesburg toe gaan?
|
|
Weet jy dat jy nie die vreemdeling in die stad kan vertrou nie, en tog, het jy nie geskroom om ons vriendelik uit ons penarie te red nie. Weet jy dat, buite die paar blokke waar jy woon, ook ander mense is, dat daar ‘n land, ‘n kontinent, ‘n wêreld is? Weet jy dat daar ‘n see is ‘n paar honderd kilometer van jou af. Weet jy dat jy dalk oor minder as tien jaar van nou af, jou hart sal verloor op hom wat buite hierdie kokon gebore is?
Jy het my weer geleer om verby vooroordele te kyk. Om te glo in die opregtheid wat nog in die mensdom oor mag wees. Danksy die enkele sekondes in jou geselsskap het ek weer vertroue gekry in 'n medemens.
En dalk, net dalk, sien ek jou tog weer eendag, net om vir jou, baie dankie te kan sê.
.
|