stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Boom
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

In die hitte van die somer trek my instink my onder jou skadu in. Daar waar dit tog enkele grade koeler is as in die son In die lewegewende suurstof wat jy produseer, is daar vir my nog 'n teugie vars asem. In jou takke sien 'n nuwe generasie voëls die lewenslig. Danksy jou het primate 'n veilige habitat. En as jy groot word, is jou wortels sterk genoeg om menige mensgemaakte fondamente te laat kraak. Jy kry dikwels die skuld dat jy voor voertuie inspring wanneer die bestuurder die gefortifiseerde vog wat van jou vrug af kom, in sy bloedstroom het. Jy word die teiken van Canis as hy sy domein afbaken. Jou naam word gebruik om 'n blaar te beskryf wat mense na ander werelde laat wegraak.

En eendag, as jy klaar jou kwota suurstof gelewer het, 'n paar geslagte voëls die lewe laat sien het en 'n veilige hawe vir primate was, voorsien jy ons van die mooiste hout om erfstukke mee te maak vir ons nageslag. Jy boom, wat begin het met 'n piepklein saadjie, soms nie eers sigbaar met die oog nie, het 'n klomp lewens kom verryk met jou bestaan.

Mag ons as mens, ook daarna strewe om net so onbaatsugtig vir ander te mag omgee.

© Stof 2002/01/07

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

.