Op die verhoog is daar laserligte, refleksies van 'n spieëlbal, pastelle uit ligfilters. 'n Kollig speel oor die verhoog en die musiek spel afwaging. Rook borrel uit die rookmasjien en die skare is in vervoering. Dan blits die lasers en jy kom op die verhoog met 'n liedjie, wat later nogal 'n kontras sou blyk. "Ek is sterk, ek laat my nie onderkry nie!" Dwarsdeur jou program spreek jy tot harte deur ander mense in jou wêreld se seer, maar ook oorwinning uit te beeld. En aan die einde van jou program gee jy al die eer aan God. Dan maak "I am strong" sin, want dit is deur Sy krag wat jy so sterk is. Dit is deur Sy krag dat al die mense wie se lewens jy belig het, ook weer oorwin het. Dit is deur Sy krag wat ek ook dalk weer eendag sin sal kan vind, tot iets sou kon bydra vir 'n sinvolle samelewing.
Deur bloot jouself te wees en jou getuienis spontaan te deel het jy ander aangeraak, het jy mense genees wat geen hoop gehad het nie. Deur jouself bloot te stel en Sy genade in jou lewe met ander te deel, was jy gehoorsaam aan Sy opdrag.
Jy wat vandag hier lees maar steeds in jou gemaksone leef, verkies om nie die risiko van getuienis te waag nie, wat is die doel van jou bestaan? Is jy 'n meganiese wese wat bloot vir jou eie selfsugtige behoeftes leef? Is God's genade vir jou 'n blote gegewe wat jy net vir jouself hou? Is daar dalk mense wat jy ken wat swaar dra. Sou jy dalk hul skouer, hul oor, maar ook hul hoop kon wees? Sou jy dalk, deur jou ervarings wat jou ryp gemaak het, vir hul weer lig kan bring?
Deur haar psige oop te skeur, haar genesing met jou te deel, het iemand aan 'n skare 'n verskil gemaak. Is dit nie nou tyd dat jy ook 'n stap neem waar jy dalk selfs net vir een mens 'n verskil sou maak nie.
In elke lewe is daar wonderwerke, is daar 'n boodskap van hoop! Deur hierdie dinge net vir myself te hou, ontneem ek ander van 'n kans op lewe. Mag jou lewe, jou ervarings ook uiteindelik dit wees wat weer hoop bring. En as ons Huis toe gaan op die tyd soos wat Hy dit sou beskik, kan jy eerlik vir jou Vader sê dat jy Sy wil gedoen het.