|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
So gebeur dit mos toe dat Vusi en kollega Stof die pad vat Warmbad toe. Twee dankbare siele wat ‘n skenking vir die sendingprojek gaan oplaai, sit en kuier in die kajuit van ‘n platneus Oshkosh. Soos wat hulle ry waardeer hulle die vindingrykheid van die aanbouings in Hammanskraal, bekyk Bebelegi se nywerhede vauit die hoogte van die trok af en gesels lang en sand, soos wat die Oshkosh die teerpad korter maak.
Kort voor die Mantsole-weegbrug, verskyn daar ‘n eensame boetie wat ewe beteuterd langs die pad staan. Een van daardie boeties, waarvan ‘n mens mos in Psalm tien vers agt tot tien lees. Soos wat ons nader kom, blyk dit wel dat hierdie boetie wel lewe, want hy beweeg nader aan die ryvlak van die pad. Hy lig sy regterhand. Vusi rat die Oshkosh af. Die kompressierem uiter ‘n behaaglike kreun. Soos wat die Oshkosh tot stilstand kom, blaas die lugtenk ‘n paar verligte asemteue uit. Boetie stap ewe kordaat nader. Hy verëer Stof met ‘n geselsie. “Sir, can I see your licence”. Stof haal sy kaartjie uit. Die broer kry ‘n fronsie en seg “This licence is not heavy enough to drive this truck” Stof stem so ewe saam met Broer. Dan let Broer op “ But sir, there is also no public permit on this licence” Weereens stem Stof volmondig met hom saam. Stof vra hom wat hom nou te doen staan. Broer stap terug na sy voertuig en haal ‘n boekie uit. Een van daardie wat vol pienk liefdesbriefies is. Hy soek iets op. Frons ‘n keer spanningsvol soos wat hy die regte paragraaf soek. Hy skryf. Hy skryf baie. Hy skryf lank. Chrisjan Langenhoven sou nie so lank aaneen kon skryf nie, Dan vra hy ‘n vragie of twee, en Stof gee hom maar die antwoorde op sy vrae. Uiteindelik is Broer klaar geskryf. Met ‘n tevrede uitdrukking van opperste satisfaksie, oorhandig hy die briefie en die lisensie aan Stof. Stof vra heel bedagsaam of die bestuurder nou maar kan ry, want daar is werk om gedoen te word. Hy vra ewe “What do you mean?” Stof stel hom voor ”Ontmoet my vriend, kollega, en bestuurder van die trok, Vusi Mokoena.” Hy kyk stadig op. Hy merk met ‘n bekommerde frons op dat dit wel Vusi is, wat by die stuur van die linkerhandstuur Oshkosh sit. Boetie verkleur oombliklik. Hy sweet bietjie meer as net ‘n paar pêreltjies. ‘n Paar komiese kleurskakerings later, vra hy half braaf, half bekommerd, of hy die liefdesbriefie kan terugkry om te kanselleer. Stof vertel hom van hulle planne vir die dag, en verseker hom, hy sal sommer self by Warmbad se landroskantoor ‘n draai gaan maak om die sakie reg te stel. Dan spaar dit mos ‘n hele klompie moeite vir Broer… Broer is nie baie gelukkig met hierdie reëling nie, maar aanvaar dit met huiwering. Tussen Mantsole en Warmbad, gesels Vusi en Stof oor hierdie insident. Dit klink mos alte veel na ‘n geleentheid om ‘n vaal dag effe in te kleur. Twee kreatiewe siele kry ‘n paar idees…
|
|
Vusi en Stof ariveer op Warmbad. Hulle gaan laai die skenking op en bedank die skenker hartlik. Daarna loer hulle in by die landdros, wat maar enkele blokke weg is. Dit is stillerig by die landdroskantoor. Die een klerk verwys ons na ‘n kantoor, waar ‘n vriendelike landdros ons inwag. Sy ligte grys slape en gemoedelike glimlag vertel ‘n verhaal van’n opregte, omgeemens. Hy glimlag saam oor die insident. Nadat hy die pienk briefie geneem het, sleutel hy iets in op ‘n sleutelbord. Hy verseker vir Stof dat, sodra die amptenaar die kopie van hierdie liefdesbriefie gaan insleutel, die netwerk dit self sal kanselleer.
Na ‘n welkome koffietjie gee Vusi en Stof hom ‘n kompliment vir sy diens, sowel as vir die sy besondere koffieresep. Landdros gee so ‘n lekker Kaapse laggie, en dis duidelik, sy skerp humorsin het ingeskop. Hy vertel in ‘n lekkerluister Kaapse aksent “Dankie virrr julle kuierrr. Ek verrrseker julle, die prrropleem is opgelos en ek sal die beampte maarrr binnekorrrt na my kantoor toe nôi vir ‘n lêkkerrr laatmiddag koffietjie. Dan sal ons twiekies, ‘n lêkkerrr brrroederlike gesrrrekkie hê so net voor tjaailatyd…
.
|