|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
Ruim Vaderlike voorsiening
As Vader Sy gereedskapstukkies toerus
|
|
| | |
|
In Sy groot plan het Vader besluit om nie net van hemelse engele as dienaars gebruik te maak nie. Hy het genoeg vertroue in Sy skepsels op aarde geplaas, dat Hy hulle ook toegerus het om bruikbaar te mag wees. Hy het hulle toegerus met die moontlikheid om te weet, as hulle Hom gehoorsaam is in wat Hy hulle opdrag gee, dan sal Hy voorsien.
So dikwels versaak ons die take wat Vader vir ons bestem het, omdat ons op menslike wyse, eers op aardse wyse probeer voorsien daarvoor, sowel as in ons dag tot dag bestaan. Ons kleingeloof manifesteer dan tot 'n sabotasie-aksie van Koninkrykswerk.
Hy het egter belowe, Hy sal vir die voëltjies voorsien. En al taak wat hulle het is om die skepping te vul met kleur en mooi sang. Hoeveel te meer, sal Hy dan nie voorsien in die behoeftes van hulle wat Hy geroep het om Sy werk te doen nie?
En so kom die toetse mos sommer so in 'n ry. Maggie doen 'n ernstige koppelaarbesering op. Ernstig genoeg dat haar gewillige hartjie op geen manier haar gewillige wiele wil draai nie. Dan verskyn daar 'n engel by name Fried en sleep haar teen amper middernag veilig tot in haar eie knus katel by die huis. Enkele omgeemense kom te hore van haar dilemma, en maak 'n tasbare bydrae tot haar kliniekkoste. Dan is daar ook 'n cadeautje waarmee Stof geseën is vir die negosiekas, wat net betyds gekom het sodat dit die gaping kan aanvul om die nodige doepa en prosteses vir haar te kan aanskaf. Drie mense en 'n instansie wat omgee. Dieselfde dag bied drie meganiese engele, Jacques, Bonita en Juan, hulle hulp aan, en vier dae later, is Maggie se koppelaar weer klopdisselboom. In dié proses van die ratkas rondskuif, kom 'n verbinding in die harnas egter los, en wil die luierklep nie oopmaak nie. Gestuurde Danie gee net een kyk, en twintig minute later, is haar luier ook weer aktief. Soveel genade en guns, alles om 'n dame wat hard werk in diens van die Koninkryk, weer mooi gesond te kry. Watter anders keuse, anders as lof en dankbaarheid, het dié wat hierdie genade gadeslaan, na soveel sigbare voorsiening?
|
|
Maggie se kliniekkostes het egter die nogosiebegroting uitgeput. Haar stowwerige kollega eet dus nie so gesond soos hy moet nie en sy eie meganika begin dit deeglik te wys. Vader is egter getrou. Hy voorsien net betyds dat daar 'n pakkie, al die pad van Wes-Transvaal af, sy pad vind tot in die stowwerige kombuisrakke. En so, word goed-eet en lekker-eet weer 'n moontlikheid. Die engele wat die negosieware gepak en gestuur het, julle word waardeer en geëer daarvoor dat julle Vader se stem herken het toe Hy by julle kom fluister het oor Stof se toetsie. Die negosieware, waarvan sommige nogal bederf-produkte is, word met dank en grasie aanvaar. Die koerier wat dit tot in TP gebring het, jy word ook raakgesien. Maar meer as dit, Vader sien julle al drie ruim raak. Stof se gebed en wens is dat julle eerstehands Sy aanraking van guns en seën in julle lewens ervaar. Dat Hy julle eie smekinge, hetsy openbaar of in privaatheid voor Hom, sal aanhoor en aan Sy prima engele opdrag sal gee om julle in elke ander dimensie van julle menswees, te kom aanraak.
'n Teksie kom in op die modemlyn. Dit vertel vir Stof dat sy digitale bronne wat so nodig is om sy werk te doen, teen middernag gaan wyk. Dat hy daarna nie sal kan kommuikeer nie. Nadat die nood slegs in 'n beperkte kring gedeel is, kom 'n oproep van 'n bepaalde instansie se verteenwoordiger wat aanbied om die subskripsies sodanig aan te vul, dat nog 'n maand se kommunikasie weer moontlik is.
Hierdie getuienis het eerstens ten doel om Stof se Skeppervader al die lof te bring vir Sy voorsienende omgee. Daarna om elke instrument wat Hy hierin gebruik het, ook hulle wat nie name genoem wil hê nie, voor Hom neer te sit met reuse tregters, sodat Hy 'n vloed van seën oor hulle kan uitstort.
As jyself dus nogsteeds ewe eiegeregtig sit en brom en knor omdat jy sou dink Pa het jou vergeet, oorweeg dit om Hom ten volle te vertrou. Hou op om Hom te verwyt dat Hy jou sou versaak het, stel jouself ten volle beskikbaar vir Sy plan in jou lewe, en doen dit wat Hy aan jou openbaar. Nie netnou of môre nie, maar NOU. Met of sonder sigbare bronne. Die oomblik as Hy sien dat jy gehoorsaam is, SAL Hy voorsien in elke detail van wat jy nodig het.
Soli Deo Gloria.
.
|