In 'n gemeenskap waar toegewyde individue moeite doen om misdadigers in toom te hou, kruip toe mos 'n tikkie jaloesie uit. Net toe Buutwag Nasionaal suksesvol is met die afbring van misdaad tot feitlik nul, kom die polisiëringforum, kaap die roem vir hulle en stig 'n liggaam wat daarop aanspraak maak dat hul dieselfde of beter diens kan lewer. Buurtwag Nasionaal word deur 'n regeringsgesteunde oormag doodgedruk. Die forum het ook 'n manier die inligting bekom van die Buurtwag se lede en onder die voorwendsel van dienslewering, wil hul nou die mense inboelie in 'n debietorderstelsel in.
Buurtwag Nasionaal was suksesvol. Dit kom ook uit die monde van dié wat deur hulle gevang is. Buurtwag Nasionaal het werk verskaf aan mense in hul eie gemeenskap. Kan dit van die kompetisie gesê word? Buurtwag Nasionaal was elke dag en elke nag sigbaar in die strate en het 'n werkende beheerkamer gehad. Kan dit van die forum gesê word? Omdat Buurtwag Nasionaal 'n edel inisiatief vanuit die gemeenskap was, het misdadigers geweet om in hul spore te trap. Daarom dat misdaad feitlik verdwyn het in die areas waar Buurtwag gefunksioneer het. Daarenteen is die nuwe polisie nie juis 'n afskrikmiddel vir misdadigers nie en deur die "nuwe" organisasie daaraan te koppel, kry die misdadigers die boodskap dat die gebied weer oop is vir besigheid.
Ek vertrou dat Buurtwag Nasionaal spoedig weer sal herrys en nie sal toelaat dat gesaglose selfaangesteldes se jaloerse motiewe hulle edel motiewe en taak laat sneuwel nie.