My masker bly my by
want my wese is te stukkend
om myself aan jou bekend te stel.
Jy sien my lag, my vreugde,
en kyk genadiglik net daarin vas.
Die pyn agter die papierdun masker
kyk jy mis en dink, ek het geen sorge.
Vanaand as dit donker word,
bere ek my masker aan sy hakie
en laat my trane vloei.
My wraak word uitgespreek,
en die donker van valse maskers haal my in.
Op my kussing is geen masker, geen skans,
net die druk en seer van mense.
Waarteen kyk ek vas as ek na jou kyk?
Wat versteek jy agter jou masker?
Dalk iets om die ongenaakbaarheid van mense te ontvlug?
Wat is die motief vir jou masker?
Waarom hou jy hom voor my?
Deel ek en jy dalk dieselfe pyn?