Ek speel met woorde
en spoel so geraamtekaste oop.
Deur 'n woord,
word die stof afgeskud.
Deur 'n nuanse,
die roes verdryf.
Totdat die skaniere
van my geraamtetrommel,
geruisloos kan oopmaak,
en my op hierdie,
pynlik eerlike manier,
sal stroop,
van al my maskers.
My woorde is die sleutel
wat jou kas se slot,
weer sal laat oopknars.
My woorde deel ek jou mee,
om die olie te wees,
wat op jou skanier,
die roes sal verdryf.
En dan is hy oop.
Jou kas vol geraamtes:
Wat jou aanstaar, maskerloos,
wat jou aanspreek, gewetenloos.
En as jy daarna 'n nagmerrie het,
vergewe my as ek die spook is,
wat op jou nagmerrie ry.
Soete drome,
wens ek jou toe...