stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Sakke kry skuld vir opvoedingsfoute.
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Die media gons oor die verblydende nuus dat die grootste nasionale onheil, naamlik plastieksakke verban is. Van oraloor kry die regering lof vir hul benydenswaardige pogings om die omgewing te bewaar. Sakke is uiteindelik ontmasker as die grootste bedreiging vir die omgewing sedert die skepping. Viva Government!!!

Nugter gesien het ons in hierdie bedrukte tyd seker 'n bietjie humor nodig gehad. Tog jammer dat die humor gebasseer was op wanopvatiinge en tonnelvisie. Die arme plastieksak kry die skuld vir 'n opvoedingsprobleem. Die feit dat daar kulture bestaan waarin netheid nie juis hoë preoriteit is nie, word geïgnoreer. Uiteindelik is dit die mens wat sakke strooi, nie die sak wat homself aan 'n heining of 'n doringboom gaan ophang nie. Uiteindelik is die eliminasie van bloot een item wat mense strooi, nie 'n oplossing vir ons reuse rommelprobleem nie. Die oplossing lê eerder in opvoeding. Deur die dunner, gratis sak te verban, word baie entrepeneurs wat die pragtigste kunswerke daavan gemaak het, nou ontneem van 'n inkomste. Wat dalk op sy beurt weer tot 'n misdaadprobleem kan lei? Deur plastieksakke te verban, word die herwinningsprosesse wat instinktief in enkele kultuurgroepe heers, blatant nekomgedraai omdat sekere ander nie gedisiplineerd genoeg is om verantwoordelik met hul oorskietmateriaal om te gaan nie. Winkels kla oor die sekuriteitsrisiko verbonde aan ongekontroleerde privaatsakgebruik. Verbruikers word onkant gevang met noodinkope as hul nie hul eie sakke byderhand het nie. Bloederige vleispakkies lek op ander inkopies en maak die uitpak 'n nagmerrie. Maar intussen is almal maar oppervlakkig opgewonde oor hierdie fantastiese nuwe inisiatief, want dis sosiaal gesproke die regte ding om te doen. Wie is ek nou om my eie mening te hê, want dalkies stem iemand anders nie saam nie. In die harte van elke verbruiker, elke winkeleienaar, elke sakkie-entrepeneur is daar hartseer oor die afsterwe van ons getroue vriend, die dun sakkie.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Intussen word daar steeds niks gedoen aan die opvoeding tot beskaafde optrede nie. Daar word steeds met ander entiteite gemors en rommel van alle denkbare en ondenkbare soorte versier ons reeds skone land nog verder. Sekere munisipaliteite en streeksowerhede doen moeite om rommelhouers oral op en in openbare persele te plaas, maar steeds word rommel bloot net neergegooi. Die opvallende is dat alle kultuurgroepe nou gestraf word deur die verbanning van 'n ou tradisie. Deur bloot waar te neem waar die strooiery plaasvind, is dit nogal maklik om vas te stel waar die opvoeding begin moet word. Maar dit sal maar agterwee bly, want die owerheid het klaar 'n internasionale sterretjie op sy voorkop gekry vir die wyse besluit om plasteiksakke te verban.

Die ander probleem wat nou ontstaan, is dat op mense se finansiële snare getokkel word om herwinning aan te moedig. In die gemeenskappe waar armoede hoogty vier, is dit egter 'n doodsteek, want elke sak waarvoor nou betaal word, kon 'n honger kind van 'n happie kos voorsien het. Die teorie is dat mense die sakke sal waardeer en herwin as hulle betaal daarvoor. Tog is dit 'n verdere aanmoediging tot materieële denke waarin 'n medemens nie as preoriteit gesien word nie.

Besluite soos hierdie oor sakke laat 'n mens raaksien hoe 'n korttermynvisie van 'n owerheid, vir 'n groot dele van die bevolking ekstra probleme veroorsaak. G,n wonder dat Boswell en Wilkie toegemaak het nie, want die kompetisie was klaarblyklik net te sterk.

Dit is insiggewend dat die owerheid nou reeds 'n klein fortuin daaruit skep deur 'n ekstra fooi op elke sak wat verkoop word, te hef. So word die gemiddelde verbruiker net nog verder belas (of geboelie of watter sinoniem ookal van toepassing is.) Dit sal insiggewend wees om te sien hoe lank dit neem voordat hierdie ekstra staatsinkomste aangewend word vir 'n opvoedingsprogram in rommelhantering. Daar is tog genoeg geld vir VIGS opleidingsprogramme, genoeg geld vir TB opleidingsprogramme asook vir die opleiding van taxi bestuurders. So 'n ekstra programmetjie sal seker nie te veel kos nie? Of droom ek maar net? Dit laat my nogal terugverlang na die dae toe Zibi 'n huishoudelike naam was. Maar, soos enige ander volstruis, het hy ook maar heengegaan, en daarmee saam sy boodskap. Toe kry die plastieksak maar die skuld.

© Stof 2009/08/12
.