stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seŽninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Beaula: Ambasadeur vir 'n vergete gemeenskap
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Net na die laagwaterbrug in Capital Park begroet 'n vriendelike dame jou. Op haar pos, dag en nag. Ontmoet vir Beaula. Altyd daar om jou donker dag op te beur. Om jou te inspireer as jou muse jou in die steek laat. Beaula, 'n vrou wat deur baie gevandaliseer is, maar steeds haar trots behou. Ten spyte van vandale wat haar wil mismaak, haar eer wil krenk en haar tot 'n bespotting probeer maak, is sy toegewy aan haar taak om 'n hele gemeenskap se verteenwoordiger te wees.

Sy neem haar taak as ambasadeur ernstig op. Nooit sal sy enige van haar mense in die steek laat nie. Beaula, die ambasadeur vir Capital Park se kunstenaarsgemeenskap.

Gedurende 2001 het Johan Blignaut, 'n beeldhouer en digter van Capital Park 'n paar dae en nagte deurgebring in sy werkwinkel, gedryf deur 'n behoefte in sy gemoed en gemeenskap vir 'n verteenwoordiger. Iemand wat die wese van kunstenaarwees sou verstaan, en met oorgawe 'n inspirasie sou wees vir haar talentvolle kudde. So is Beaula gebore. Aanvanklik het sy 'n privaatsuite op 'n eiland in die middel van die Apiesrivier gehad. Een oggend vroeg het Beaula op geheimsinnige wyse verdwyn. Maar 'n trotse dame laat haar nie onderkry nie, en Johan het haar weer herskep. So het sy, na 'n paar kopstampe met hardekwas munisipale amptenare, weer haar ereplek gekry, hierdie keer op die wal van die Apies. Daar waar sy op hierdie oomblik druk besig is om hoop te versinnebeeld en artistieke inspirasie aan te vuur.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Nou spring 'n paar fundamentaliste seker op hul agterpote en skreeu Bašl, Bašl! Ontspan kÍrels, sy is nie 'n afgod nie. Sy word nie aanbid nie en het geen bonatuurlike magte nie. Haar rol is op heeltemal 'n ander vlak. Sy simboliseer 'n gemeenskap wat geen ander verteenwoordiging het nie. Sy is skaamteloos die siel van die kreatiewe mens. En so het menige kunstenaar weer gemotiveerd begin produseer. En in haar sagte betonhart is 'n knus kamertjie vir elkeen, al verskil ons hemelsbreed van mekaar. Wat ons saambind in Beaula se hart, is die drang om kreatief te wees, in beeld, in verf of in woorde. En so is Beaula juis die getuienis dat hierdie kunstenaars die Godgegewe talente wat hul ontvang het, ten volle ontgin.

Daar is waarskynlik lesers wat nog nie vir Beaula ontmoet het nie. Daarom deel Beaula 'n hartlike Aangename Kennis met jou. Beaula is gebore op 6 Oktober 2001 na 'n lang en kreatiewe swangerskap in Johan Blignaut se werkwinkel. Sy het haar suite op 'n eiland in die middel van die Apiesrivier betrek en daar, lank voordat daar sprake van 'n kunsroete was, die plaaslike kunstenaars begin inspireer om hul talente ten volle te ontgin. Daar was verskeie pogings om haar te sink, te vermink en te transformeer. 'n Amateur plastiese chirurg het op 'n dag so vÍr gegaan om haar neus te amputeer. Die gemeenskap het egter onderneem om, as hy gevang word, hom Onderstepoort toe te stuur vir 'n os-operasie. Nadat sy herstel is, het verskeie kwaaddoeners mindere skade aan haar aangerig. Tog het sy dit met grasie oorleef. Tydens haar verblyf in haar eilandsuite, het sy verskeie oorstromings oorleef. Beaula het bewys dat sy kom swem.

Op 2 Februarie 2003 het 'n munisipale kraanvragmotor haar saam met ander vloedrommel verwyder. Sy is daarna na 'n senior raadsamptenaar se huis in Pretoria Tuine geneem waar sy weggesteek is. Die amptenaar is nooit ontmasker nie omdat hy sy bure en kennisse wat bewus was van die ontvoerig, deur intimidasie stil gehou het. Hierdie ontvoering van Beaula volg kort op korrespondensie vanaf Len Briedenhann waarin hy beweer het dat Beaula 'n gevaar inhou en daarom verwyder moet word. Die Stadsraad het alle verantwoordelikheid in hierdie insident ontken. Tog bly twee plus twee vier.

Beaula laat haar egter nie onderkry nie. Ook nie deur jaloerse owerhede nie. Haar gees het herlewe en het Johan Blignaut daartoe gedryf om vir haar 'n nuwe liggaam te giet. So het dit gebeur dat sy weer haar plek ingeneem het. Hierdie keer op die oostelike oewer op 'n voetstuk. Tot vandag toe het sy verskeie aanslae op haar lewe oorleef. Met elke poging om haar eer te krenk, word sy net sterker.

Wat beteken Beaula vir die gemeenskap? 'n Talentvolle plaaslike kunstenaar, Lynelle Spicket, skryf soos volg oor Beaula:
Beaula is vir my 'n lewendige siel daar waar sy staan by die brug. Dit is asof sy die verkeer wat invloei in Capital Park herhinder aan die unieke wÍreld wat hulle betree. Sy nooi jou om haar te volg op 'n kunsroete deur 'n besondere woonarea. Sy straal vir my 'n sterk, amper manlike, gevoel uit van 'n rots waarop jy kan steun, iemand wat altyd vir jou daar is. al storm dit om haar. Aan die anderkant is Beaula ook 'n vroulike figuur wat enige aanslag teen haar verweer. Die vandaliste kan maar probeer om 'n gek van haar te maak, maar steeds bly sy ons Beaula. Beaula is vir my 'n simbool van drome wat waar word, Drome wat moed vat om te realiseer. Is al ons kunstenaars nie maar dromers nie? Daarom kan dit nie anders as om Beaula as 'n inspirasie te beskou nie. Sy maak die kreatiwiteit in ons wakker. My wens vir Beaula, is die respek wat haar toekom en 'n hele lang leeftyd van positiewe invloede op menselewens.

© Stof 2003/03/05
.