stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Cruela en die morutiwoefie
'n Huldeblyk aan Petro...
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Op 'n kantoorstoel in 'n klein inligtingshokkie wat wil bars om die insittende Cruela se ego te hanteer, sit 'n persoon met 'n haarstyl wat sedert haar matriekafskeid onveranderd is. Slegs die pigmentverlies daarvan toon dat daar wel tyd verloop het. Haar pikant-pienk geverfde dun lippies se hoeke bied hoegenaamd geen weerstand teen gravitasie nie. 'n Oormaat gesigverf probeer die hanglippies se slytasie en die stresdongas verbloem.

Die amper-spookwit gebleikte gesig huisves oë wat meerderwaardig afkyk op enige een wat waag om haar hoogheid se ego-tog te onderbreek met 'n navraag. Dan blits die lewelose ogies 'n morsekode sein van verwerping. Pienk hanglippies uiter in 'n Wôterkloofrif-aksent woorde van bedenkinge oor 'n gelykgeskape medemens.

Maar hierdie moruti sink nie verbyseld teneer soos wat Psalm tien beskryf nie. Die moruti wys Cruela vriendelik dog ferm daarop dat daar werk is wat gedoen moet word en dit sál gedoen word want hy is ontbied. 'n Tongetjie wat steeds skerp probeer bly, bevraagteken die geskiktheid van "buitestaanders" en probeer as laaste doodsnik hulle interne maatskaplike personeel as teenvoeter gebruik. 'n Tswanaman in sekuriteitsgewaad kan nie hierdie teistering verder hanteer nie, kom nader, spreek Cruela ferm aan en verduidelik summier aan haar in nie-standaard Afrikaans, dat hierdie morutiwoefie nie deur Cruela geslag sal word nie. Cruela wip haar stywe kapsel en trek haar pienk lippies dun, soos wat die sekuriteitsamptenaar namens haar verskoning vra, en die moruti vriendelik die pad wys na die vertrek waar die werk gedoen moet word.

Oppad uit, vra moruti vir Cruela wat hulle epos adres is. Dit word beamtwoord met 'n knor: Wat wil jy daarmee maak? 'n Kollega hoor egter die versoek, trek 'n papiertjie nader en skryf dit vir die moruti neer. Cruela is ooglopend ontsteld oor kollega se swak smaak om aan die moruti se versoek te voldoen.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Oppad na die hekke, kruis die moruti pad met die dierbare sekuriteits-engele by die buitehek. Hulle wens hom uit die hart uit, 'n goeie dag toe. Bied hom selfs 'n onderdak parkeerplek aan as hy weer kom. Tswana man fluister iets in een engel se oor, en engel simpatiseer sommer net daar met moruti oor Cruela. Dit sou blyk, die plaaslike personeel se bynaam vir haar is "Mogwętę"...

Met Mogwętę agtergelaat, gaan die moruti die res van die dag tegemoet...

© Stof 2013/01/23
.