'n Sendingkonferensie. Amper tweehonderd sendelinge en pastore bymekaar. Hierdie konferensie het plaasgevind tydens 'n tydperk waarin Stof verskeie beproewinge moes deurgaan. Tydens een koffiebreek kom stel 'n maer mannetjie in 'n vreemde jas hom aan Stof voor. En hulle gesels heerlik. Kry dié man toe mos 'n openbaring van Pa af oor enkele sake Stof laat swaartrek. En hy bring Woord. Raakvat Woord! In dankbaarheid , word kontakbesonderhede uitgeruil. Later sou Oprah verskeie kere uit die bloute uit vir Stof 'n teksboodskap uit Nigerië stuur met net sulke raakvat Woord soos wat hy op die konferensie gekry het. Stof sou eers heelwat later kennisneem dat Oprah Edokpolor ook 'n biskop in een van Nigerië se grootste kerke is.
As jy dus weer eendag wonder vanwaar jou Woord van bemoediging, of jou antwoorde gaan kom, weet dat Pa dikwels die mees onwaarskynlike persoon sal gebruik om Sy Woord aan jou oor te dra. En wanneer dit gebeur, moenie onwillig wees om te luister nie. As die Heilige Gees jou wys dat dit eg is, buig net daar en sê dankie.
Aan elke engel wat so gestuur word, dankie vir julle gehoorsaamheid. Aan Oprah, dankie vir 'n besondere vriendskap en vertrouensverhouding wat daardie dag op die sendingkonferensie begin het. Mag jy net soveel seën en baie meer ontvang, as wat jy aan ander uitdeel, elke dag van jou lewe.