stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

God sorg ook vir sy diere
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Elke mens word deur sy Skepper geseën met iemand wat lojaal, onverdeeld en altyd daar is wanneer 'n drukkie nodig is. Daardie dae wat die res van die wêreld so besig is met hulle eie sake, dat hulle uit pas raak met dié om hulle se behoeftes.

Stof het 'n hond in sy lewe. Sy is 'n labrador/skaaphond kruising. Sy is lojaal, altyd daar wanneer die res van die werf al slaap en nie eens kennis neem van sy bestaan nie. Sy is die hond wat in Stof se lewe geplaas is deur sy Vader om hom in daardie stil, eensame tye van die dag en nag, te vergesel op sy reis deur die lewe.

Per geleenthied ontwikkel sy 'n groeisel in haar lies. Die ding is warm, groei vinnig, en duidelik ongemaklik vir haar. Stof het egter soveel wondere in sy lewe ervaar dat hy weet, hy moet haar voor sy Vader bring. Hy raak by verskeie geleenthede stil voor Pa en smeek Hom om sy Hand van genesing oor die hondjie uit te reik. Kort daarna, begin die groeisel ophou groei. Dit is ook nie meer warm nie. En dit begin wegkwyn, elke dag 'n stukkie.

As jou Vader jou geseën het met 'n hondeasempie in jou lewe om jou in ure waar eensaamheid op sy ergste is, jou te ondersteun en daar te wees vir jou, is hierdie getuienis vir jou.

Hy wat daardie hondjie gemaak het, Hy wat haar of hom gestuur het in jou lewe, wil ook omsien na daardie asempie, wil ook dat daardie diertjie deur goeie gesondheid, hul beste vir jou kan gee. Jy mag Hom vertrou vir jou diere se genesing, vir hulle welstand.
Maak vandag 'n punt daarvan, om jou diere een vir een, by die naam, voor Hom te bring, en sien daarna hoe Hy hulle ook seën.

© Stof 2009/05/19

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

.