Tydens 'n meganiese beproewing, word Stof geseën met die nodige onderdele om die aardse oorsaak van die sakie, op te los. Pa seën hom selfs met 'n goeie vriend wat presies weet hoe om die onderdeel reg te installeer. Die duiwel is egter maar skelm, en vat net daar sy kans. hy maak dat die dryfas loskom van die ewenaar af. Stof en sy gestuurde vriend kry dit net op geen manier teruggesit nie. Albei van hulle gesels met Pa op hul eie manier hieroor. Vra dat Hy tog hierdie herstelwerk, wat hy begin het, sal volvoer. Pa is getrou. Die volgende minuut is daar 'n persoon langs die voertuig. Iemand wat om heel 'n ander rede kom inloer het. Maar hierdie persoon, het die meganiese kennis van 'n aandrywingstelsel dat hy binne minute, die hele dryfas sowel as die wiel en die koppelstukke, perfek in plek het.
Tydens die toetrrit daarna, blyk dit dat die remme tydens die werk, lug gekry het. Die gestuurde wat die koppelstuk geïnstalleer het, weet net waar om raak te vat, en binne minute is die remme beter as wat dit selfs voor die insident was.
So seën Pa ons daagliks met engele oor ons pad. Een engel wat weet hoe om halstarrige koppelstukke te vervang. 'n Ander wat weet hoe om 'n dryfas weer terug te plaas. Maar ook dié wat remme so goed ken, dat hulle dit feitlik toe oë kon stel. Net so wonderbaarlik, is die rede waarom Pa toegelaat het dat hierdie dinge moes gebeur. Na die vervanging van die koppelstuk en die herinstallasie van die dryfas, is die stuur baie meer stabiel, en die middelposisie van die stuur, weer waar dit moet wees.
As jy eendag weer in 'n situasie is waar 'n dryfas loskom en jy nie verstaan waarom nie, raak 'n oomblik stil en weet, jou Vader wil iets vir jou sê. Dalk het Hy geweet daar is iets wat nie mooi gestel is nie, en dat Hy op hierdie manier jou mobiliteit weer tot perfeksie wil bring. As Hy op daardie oomblik 'n vreemdeling oor jou pad bring, weet dat vandag, jou dag van seën was. As jy die dag die vreemdeling is wat geroep is om iemand anders se pad te kruis, wees gehoorsaam, want weet dan, Pa wil jou vandag gebruik om 'n ander boetie of sussie te seën.
Aan my Skepper-Vader, al die eer, dat Hy my so geseën het, met die regte engele op die regte oomblikke.