Steeds gestrand sonder toegang tot die WWW, vra Stof sy Vader hoe moet hy maak om 'n paar digitale noodsaaklikhede af te handel. Nadat hy Pa gevra het, dink hy, tipies mens, oor wie hy kan vra om die nodige dienste vir hom beskikbaar te stel. Die een opsie is die munisipale biblioteek. Maar die biblioteek se netwerk interpreteer van die inlogblaaie wat Stof moet gebruik, as riskante werwe. Nugter weet hoekom. Sy gedagtes dwaal vêr en wyd. So dink hy aan 'n vertroueling wat met vreugde sal help, maar die afstand daarheen, bly net eenvoudig verder as wat die vloeibare reserwes van die meganiese vervoer toelaat. Daar is ook 'n kollega baie naby, maar Stof weet dié het diekomende naweek familiesake aan en sal dus uithuisig wees. Enkele ander menslike opsies is ook almal 'n doodloopstraat. Net daar besef hy, hy het al weer probeer oorneem in Pa se voorsiening, en sonder versuim bely het dit. Daarna vra hy opnuut: Vader, gee tog 'n uitkoms.
Minute later skakel iemand wat binne loopafstand van hom af woon. Dié wil graag hê dat Stof hom kom bystaan in 'n familie-aangeleentheid. In feitlik dieselfde asem, bied hy ook sy terminaal aan "vir ingeval Pastoor dalk iets daarop moet doen". Stof raak klein van dankbaarheid. Hy loof net daar sy Vader vir die wonderlike uitkoms.
So laat ons Vader dikwels toe dat dienste wat ons te maklik aan gewoond raak en as 'n gegewe beskou, breek. Daarmee leer Hy ons weer afhanklikheid van Hom. Die vooruitsig hieragter, is egter dat dié een wat die lessie geleer het, weer deur Vader geseën gaan word met beter fasiliteite, as dit wat toegelaat is om te breek. Daarom is Stof se gebed vandag 'n reuse dankie aan Vader vir die voorsiening van die terminaal wat more beskikbaar raak, sowel as 'n smeking en 'n dankie vir voorsiening van die toerusting wat Pa reeds voor ja gesê het.
As Vader toelaat dat jy vir 'n korter of 'n langer tydperk, iets ontbeer, soek eers die doel daaragter. Hy is jou Skepper. Hy is nie 'n sadis nie. Hy sal jou nie onnodig laat ontbeer nie. Maak seker jy tree in opregte gesprek met Hom oor hierdie sake, en jy sal verstom staan oor Sy oorvloedige guns en voorsiening wat hy vir jou as uitkoms, in stoor het.