stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Om geskroei te word
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Sommer net ‘n uit die hart deel. Stof ervaar té dikwels geweldige druk van veeleisendes, veral in die afgelope tydjie. Dit terwyl hy van tyd tot tyd intelektueel, geestelik en sintuiglik moeg is. Sommige eis knaend. Sonder om hulself te vergewis van stand van Stof se kragvlakke en bronne-vlakke. Hulle wil aanhoudend weet wat, waar, wanneer, hoeveel. Vrae waarop daar nie antwoorde is nie. Vrae waaroor Stof nie antwoorde kan rypdruk van ander betrokkenes, veral nie van Vader self nie. Vrae waarop gewetenlose druk en selfs openlike geïriteerdheid met Stof, geen verskil sal maak aan die tyd waarop ‘n antwoord of ‘n oplossing beskikbaar sal wees nie. Al wat daarmee bereik word, is om Stof verder te verniel.

Stof is dankbaar vir elke ding wat op Vader se geskeduleerde tyd voorsien word. Hy het veral daarom, nie die outoriteit om bloot ter wille van ‘n ander se geïriteerdheid, self ‘n mening te waag oor Vader se tydsberekening nie.

Stof is ook gegiet in ‘n menslike liggaam. Hy het ook ‘n menslike psige. Albei dinge wat besonder goed funksioneer, solank hy sy rentmeesterskap daaroor met verantwoordelikheid hanteer. As hy dus verby sy kapasiteit beweeg in enige dimensie van sy menswees, weet hy, hy gaan brand. En hy het al twee keer in die verlede gebrand. Dit was nie maklik om weer te herstel nie. Stof weet wanneer sy instrumentasie hom vooraf wys op gevaarvlakke. Dit is die rede waarom selfs die weermag hom nie destyds wou hê nie in ‘n tyd toe hulle nie maklik volle vrystelling gegee het nie. Om juis die tye wat Stof se liggaam, psige en sintuie moeg is, te kies, om hom verder te dreineer, is om konstruktief tot sy destruksie by te dra. Iets wat iemand wat waarlik omgee, verál nie sal doen nie.

Stof dien met graagte. Solank as wat sy kragte toelaat. En sy kragte kan lank hou. Hy is bereid om baie ekstra myle te stap waar sy kragte, in watter dimensie ook al, dit toelaat. Maar as daar tye kom wat hy ter wille van oorlewing terugstaan om vir ‘n tydjie net sy rentmeesterskap oor sy aardse bronne te dien, is dit sodat hy, nadat hy weer herlaai het, hy weer ten volle diensbaar kan wees.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Om bloot ter wille van ‘n geleentheids-bruikbaarheidswaarde uitgepers te word ongeag sy kapasiteit, is ‘n vinnige manier om seker te maak dat hy dalk nie weer bruikbaar sou kon wees daarna nie. Nie net vir die eisendes nie. Nie net vir dié wat hom waarlik nodig het nie. En dalk ook nie vir homself nie. Dan het hy sy rentmeesterskap gefaal en moet hyself verantwoording daarvoor doen.

Daarom net ‘n vriendelike versoek om sensitief te wees vir elke mens in jou lewe se eie menswees. Om op te let na die individu se kapasiteit op daardie oomblik en in alle billikheid, instaat te wees vir dit wat jy graag wil vra/eis. Ter wille van albei van julle, en die totale gemeenskap om ons.

© Stof 2013/08/23
.