stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Huwelied
Musikale pitkos vir elkeen wat dapper genoeg is om eerlik te wil wees
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

As jou middagslapie vandag vir jou belangriker was as om na Huwelied te gaan luister, is dit jou verlies. As jou gewete jou hierna pla omdat jy jou gees die geleentheid misgun het om verryk te word, heroorweeg jou preoriteite.

Huwelied het vandag by Coffee@Capital getoon wat ware kunstenaarwees is. Hulle fyn waarneming van lewensituasies is die pitkos wat hulle diep-luister musiek, so treffend maak. As jy een woordjie mis, mis jy dalk ‘n hele stukkie wysheid wat in die subteks verskuil gelê het. Dit is ook lekkerluister musiek wat jy weer en weer sal wil hoor. Hierdie musiek spreek tot lewenssituasies wat elkeen van ons, op een of ander wyse, al in ons lewens beleef het, of van kennis geneem het.

Corné se lirieke getuig van geniale denke. Sy fyn verwoording van gedagtes en emosies wat ek en jy nog altyd wou verwoord maar nie geweet het hoe nie, gee ons meteens daardie gemoedsrus, dat ons nie alleen is nie. Verfrissend anders as die oorvloed kommersiële treffers op die mark wat op blote herhaling, dwangrym en genitale denke berus.

Met stem, viool en kitaar, noop hulle elke luisteraar om fyn te luister. Hul stemme is in harmonie, hul instrumente in voeling met elke lied. Genoeg geïnspireerde subteks, dat wat dié wat fyn geluister het, se gewetens hulle dalkies net vannag mag aanspreek as alles stil word...

Huwelied gee diegene wat essensie in musiek wil hoor, weer hoop. Hulle albums sal onder dié wees, wat nie elke paar jaar vervang word nie, maar in jou immergroen musiekrak sal bly pryk.

Welgedaan, Huwelied.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Om seker te maak dat jy nie 'n volgende geleentheid misloop nie, besoek hulle webwerf by www.huwelied.co.za of besoek hulle Bakkiesboekwerf by m.facebook.com/Huwelied.

© Stof 2014/11/02
.