|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Verskeie mense het reeds op verskillende maniere hul getuienisse oor jare heen gedeel. Vir elke omstandigdheid is daar ‘n ander manier om ook God se Koninkryk se saad te saai. Deur mekaar se uiteenlopende talente en gawes mis te kyk, verval ons dikwels in ‘n selfgesentreerde groef waar ons alles en almal wat anders funksioneer wil uitsluit en verwerp, en so verloor ons ons medemens. So verydel ons ons Godgegewe opdrag om Sy Naam uit te dra. Ek skets verskillende scenario hieronder om die besondere verskeidenheid maniere waarop mense God se getuienis kan lewer, op ‘n manier aan jou oor te dra waarop jy vir elkeen, ‘n unieke waardering sal ontwikkel.
Getuienis
1. Jy staan op ‘n plastiekkrat met ‘n gehawende Bybel in jou hand. Rondom jou krioel oorblyfsels van mense, hulle wat reeds materieel alles verloor het, wat reeds liggaamlik uitgeteer en siek is, wat ook oppad is om hulself te verloor. Deur in eenvoud en liefde Sy liefde met hulle te deel, sien jy weer ogies blink, sien jy weer hoe mense die Woord se beloftes ook weer lig bring waar daar geen toekoms was nie. Deur ‘n pot sop te deel, deel jy Sy liefde. Deur ‘n buurt te betree waarvoor ander vrees, bring jy hoop. En as die stofstreep van jou vertrek deur die buurt op die horison verdwyn, weet dan dat jy vandag mense gewen het vir Sy Koninkryk.
2. Op ‘n hoë kansel met ‘n toga om spreek jy die Woord. ‘n Bevrydende woord. Onder jou toehoorders is gewoontebesoekers, maar ook dié wat gekom het Sy Woord te hoor. Jy spreek die woord te midde van ‘n lugreëlaar wat jou koel hou, en praat oor ‘n klankstelsel wat talle beny. En as jy “Amen” sê, is daar hulle wat dankbaar huis toe gaan vir dit wat jy in gehoorsaamheid aan Hom vir hulle gegee het. Maar ook die wat vanoggend weer uit gewoonte daar was, kan minstens daar uitstap met ‘n masker dat ek wel ‘n kerk besoek het en die ouderling daus nie vrae sal vra nie.
|
|
3. Jy staan op ‘n verhoog. Deur kontemporere klanke vertel jy passievol die verhaal van verskeie wat deur dieptes en dale weer uiteindelik oorwinning gesmaak het. Deur jou eie getuienis verseker jy dat elke hoorder weet dat Christus leef. Jy laat traanspoortjies by menige, ‘n saadjie wat tot bevryding kan lei. Party ontken, ander swyg, soms, loop iemand selfs uit. Dalk gooi iemand jou nog eendag met ‘n eier of ‘n naartjie. Tog, deur hierdie uiteenlopende groep mense wat hierheen gekom het om ‘n ontspanne aand uit te geniet, bring jy meer as net vermaak. Jy stuur elkeen huis toe met die saadjie in sy hart wat vra: “Is my saak met Jesus Christus reg?” Jy bring evangelie deur laser en rook, lig en klank. Dan is jy die een wat in nederigheid verbaas is as iemand jou daarop wys dat jou getuienis, ‘n lewenslange verskil gemaak het.
4. Op ‘n verhoog in ‘n arena deel jy entoesiasties die Woord met hulle wat gekom het om te hoor. Jy spreek lewenswaarhede aan en deel die insig en leiding wat jy ontvang het. Van jou toehoorders het gekom vir voedsel, ander uit gewoonte. Party slurp elke woord van jou op en bewaar dit diep in hul hart. Ander is verveeld en sit en teksboodskappe stuur of prentjies teken op die dagprogram. As jy dan jou boodskap gebring het, is daar hulle wat dankbaar die pitkos ter harte neem en dit verwerk tot ‘n dieper verhouding met sy saligmaker. Ook die wat nie kon wag dat jy klaarmaak nie, want hulle wil nog die kos gaan afrond vir die Sondag-middagete. As jy die podium verlaat, is daar ‘n dankbaarheid dat ook jy vandag die voorreg had om ‘n verskil in ander se lewens te maak.
5. Met jou kitaar en stem hou jy mense gevange. Jy deel subtiel die maskerlose essensie van menswees, met Jesus Christus as essensie. Deur jou kitaar se klank te hervorm met ‘n brugstuk, hervorm jy mense se lewens. Deur rou waarhede op ‘n manier aan sielshonger hoorders te deel waarop hulle dit nog nooit gehoor het nie, is jy gehoorsaam aan die opdrag wat Hy jou gevra het om vandag te doen. Jou effekte is min, die foefies in absentia. Dis in eenvoud, maar op ‘n nuwe wyse, waarop jy vandag jou opdrag uitgevoer het. Hulle wat ontken het, skryf jou af as net nog ‘n mal kunstenaar. Hulle vir wie jy ‘n verskil gemaak het, buig dankbaar hulle hoofde in aanbidding en sê saggies dankie vir die genade wat hulle ontvang het om vandag in jou gehoor te kon wees. Jy het vandag, vir hulle wat so stukkend was dat daar nie meer hoop was nie, gewys dat daar wel hoop is en dat hulle ook kosbaar is in die koninkryk, dat genade ook vir hulle beskore is.
6. Vanaand raak ‘n klein kindjie op jou skoot aan die slaap. Hy weet dat hy niks hoef te vrees nie, want Mamma is by hom. Deur jou deernis en onvoorwaardelike liefde en aanvaarding, is jy vir hom die beeld van Jesus. Deur ma te wees, het jy ‘n kosbare klein gemeentetjie wat op jou staatmaak vir leiding, vir wie jy na die Here se troon moet lei. Deur jou roeping doen jy meer as wat menige formele predikers ooit kon. Jy is ‘n ma.
.
|