stof tot stof, stof tot nadenke
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Wat of wie is Stof:
'n Stowwerige aanvullende biografie
Tuisblad

Vra jy toe mos hoe het dit gekom dat hierdie wêreld so tussen al sy uiteenlopende goggatjies, ook nog plek het vir hierdie stowwerige skepseltjie...

Daar was oor die loop van ‘n tydperk, verskeie individue wat in persoon, in die media, of in die skindergange, stellings gemaak en kritiese vrae gevra oor Stof. Stof se webwerfstatistiek toon dat van die soekterme wat gebruik is om op sy werf te beland, nie noodwendig almal in dieselfde gesindheid gebruik is nie... Of jy dus oor ‘n vingerhappie ‘n direkte vraag aan Stof gevra het uit opregte belangstelling, op die lug ‘n vraag gevra het tydens ‘n onderhoud, of in die skindergange stertjies by gerugte bevoeg het en gedink het dit bereik nie Stof se ore nie, hierdie griffeltjie behoort jou belangstelling te prikkel.

Hierdie stuk is eerstens bedoel vir vir hulle wat in opregtheid navraag gedoen het. Dit is ook bedoel as ‘n getuienis van hoe Vader Yahwe hierdie stowwerige laaitie van hom seën en die geleentheid gee om van tyd tot tyd, tog iets te mag beteken vir medeskepsels. Daarna, is hierdie biografie ook bestem om oorhaastige draaiboekskrywers wat so graag fiksie sensasioneel wil aanbied, meer as net ‘n bietjie te laat bloos oor hulle ontblote motiewe en verbeeldingryke fabels...

Stof se
identiteit
Stof se
kwalifikasie
Stof se
bediening
Meer oor Stof
se stofwees...


Oor Stof se identiteit:

In 2001 het buitestaanders die nodigheid gesien om hofamptenare om te koop om sekere uitsprake oor Stof te maak en bepaalde staatsrekords oor hom aan te pas. Soos dit mos maar gaan met ‘n ietsie onder deur die lessenaar en die haastige spronge daarna om aan die gewer van die bloedgeld se versoek te voldoen, glip daar dan mos ‘n paar oorhaastige foutjies in. Stof het egter eers in September 2003 op die resultaat van die gekonkel afgekom. Tydens ‘n besoek aan Binnelandse Sake, deel die toonbankklerk mos die volgende aan Stof mee: “But sir we cannot help you because you refrained from supplying us with your death certificate.” Hierdie misverstand sou eers op 22 Desember 2008 opgelos word. Danksy hoofsaaklik een toegewyde amptenaar se bereidwilligheid om bo sy onwillige kollegas uit te styg, kon Stof daarna weer voortgaan met sy lewe, ook in die administratiewe en staats-sfeer. Die positiewe agter die uitkoms van hierdie episode in sy lewe, is dat sy publieke naam, nou geregistreer is as sy staatkundige naam, en dit dus nie meer nodig was om ‘n dubbele identiteit te handhaaf nie. As jy dus weer daaraan dink om Stof se naam te bevraagteken, weet gerus, Stof se identiteit is Stof, skaamteloos, in elke dimensie van sy lewe. En as jy nie daarvan hou nie, moenie kerm en kla en hierdie stowwerige boetie van jou kritiseer nie. Sit eerder af na die naaste negosiewinkel toe en koop vir jou ‘n ou stofmaskertjie, voordat jy dalkies net, ‘n erge allergiese reaksie kry.

Terug na
indeks


Oor Stof se D graad:

So steek Stof se een geliefde broer mos per geleentheid ‘n relaas af op die stoep van Huis vir Afrikaanse Poësie se stoep. Sy luiddrigtige fabels word ten aanhore van elkeen wat wil luister, aangebied as sy weergawe van wat hy sou wou glo, die waarheid is. Stof word as integriteitloos beskryf. Stof se kwalifikasies word op opvallend-lomp manier, bevraagteken sou dit vals wees. Stof se werk word geseën met welingekleurde komplimente, afgerond met ‘n ryke verskeidenheid beskrywende terme wat nie regtig op ‘n publieke blad herhaal kan word nie. Daarna het ‘n paar respondente direk met Stof gesels omdat hulle graag die korrekte feite wou weet. Ander, het in onder meer die skrywerskring waar Stof soms beweeg, begin verbeeldingryke fiksie skryf en hulle gedagtevlugte begin verwar met ‘n dokumentêr...

Na aanleiding van vele botsende weergawes van Rookappie en die wolf wat op die oomblik rondswerf na broer op die stoep en enkele ander broers se verbale- en digitale diareë, het van Stof se gewaardeerde ondersteuningstruktuur-engele, gevra dat Stof bietjie meer deel oor die voorreg van ‘n D-min, wat Vader hom mee geseën het om sy werk soveel makliker te maak. Op versoek dus, ietsie meer, vir julle wat opreg gevra het na die feite:

Die graad staan bekend as D-min. Dit is Honorus Causa deur Therapon Universiteit toegeken. Die kriteria vir die toekenning was amper twintig jaar se bewese sukses in die filantropiese-, opheffings- en bedieningswerk, veral onder psigiatriese pasiënte, verworpenes en gestigmatiseerdes.

Stof het reeds op skool, betrokke gewees by Evangeliese aksies binne die destydse skoolstrukture. Stof het na skool, hom aangesluit by die geledere van die formele teologiese opleidingstrukture. In die laat tagtigs en vroeë negentigs, tydens sy tyd op universiteit, het hy gefrustreerd geraak met die dogmatiese- en oogklap-vooroordele wat in tradisionele opleiding vasgegiet is. Die rigiede teologies-wetenskaplike lyne waarbinne die akademie al drie elemente van God-Drie enig se funksionaliteit beperk het ooreenkomstig denkwyses wat by die mens se voorkeure pas, was die finale frustrasie wat hom uit die akademie van formele Teologie gedryf het.

Stof het tussendeur ook die boonste sport van ‘n vakmankwalifikasie bereik, wat hy slegs aanwend ten bate van hulle wat andersins nie vakmandienste kon bekostig nie. Maar dit, bloot terloops.

Hoe het Stof suksesvol gekwalifiseer vir hierdie graad? Gewoonlik studeer ‘n geroepene jare lank aan die teorie agter sy roeping. Nadat die kwalifikasievlak bereik is waarmee hy tevrede is, begin hy dus die werk met ‘n akademiese graad, maar weinig praktiese ervaring. Die verworwe kwalifikasie dus, nie noodwendig in alle gevalle ‘n waarborg dat daar wel sukses in die werk bereik sal word nie. Stof het gekies om eerder in te plons daar waar Vader hom nodig het. Sonder ‘n voltooide formele graad. Hy het ingeplons op daardie plekke waar sy kritici sou beweer, ordentlike mense nie gesien word nie. Hy het dit nie gedoen met die oog daarop om jare later geseën te word met ‘n D (HC) nie. Intussen het hy wel enkele kortkursusse in sake gedoen wat hy bloot as nuttig vir sy werk sou ag. Hy het wel ‘n klompie krediete uit sy formele universiteitsjare behou vir vakke geslaag. Ten spyte van die onvoltooide graad, met tog genoeg geslaagde krediete om saam met die kortkursus-krediete ernstig opgeneem te word deur owerhede en instansies waar samewerking en toegang nodig was, het hy maar net sy werk gedoen en deurlopende seën daarop ervaar.

Tog, het akademiese owerhede byna twintig jaar in sy werk in, die sukses in sy werk en die prognose onder hulle wat onder sy vlerk deur is, raakgesien. Die betrokke instansie wat aanvanklik die benoeming gemaak het, het weens, vermoedelik politieke redes, nie die toekenning deurgevoer nie. Die benoeming egter, het die aandag getrek van die Suid-Afrikaanse verteenwoordigers van Therapon, wat geroepe gevoel het om wel die toekenning aan te beveel aan die moeder-universiteit, waarna dit suksesvol toegeken is. Die graad D-min, word op die webwerf van Therapon Universiteit, beskryf as ‘n graad wat spesifiek op die praktyk gerig is. (Doctorate in Ministry). Dit is dus nie primêr daarop gerig om ‘n navorser van formaat of ‘n ‘n lektor van formaat op te lewer nie, alhoewel dit nie die moontlikheid uitsluit nie. Dit is egter ‘n graad wat die houer daarvan sou toerus, om nie net blote akademiese kennis wat vir dienslewering nodig mag wees, te verwerf nie, maar praktiese gereedskap om werklik suksesvol in alle aspekte van die praktyk te wees, te bekom. ‘n Graad, vir diegene wat gerig is op dienslewering, en nie op blote navorsing nie. So is Stof dus deur Therapon Universiteit geseën met hierdie praktykgerigte D-min graad, wat hy met dankbaarheid kan getuig, gebasseer was op die bewese sukses van sy jare se werk in die praktyk. Daarvoor kan hy net sy Skepper-Vader loof. Sedert die bekendmaking van die toekenning van hierdie graad, het verskeie verdere deure by owerhede en instansies vir hom oopgegaan, en het hy met dank besef, waarom dit Vader se wil was om hom toe te rus met hierdie spesifieke stukkie doelgerigte gereedskap.

Terug na
indeks

En hiermee dan, die aanvullende stukke biografie rondom veral twee sake waarna ‘n paar omgee-mense gevra het. Dankie vir die motivering, om tog hierdie inligting te publiseer en dalk so ook, ander te bemoedig wat voel dat hulle werk dalk nie raakgesien word nie.

Besoek gerus die bedieningsblad op Stof se webwerf by www.stof.co.za/bedien, om meer te lees oor die werk waarmee hy in praktyk geseën is om te mag doen. Lees ook meer oor Stof se identiteit op www.stof.co.za/identiteit. En as jy regtig verder wil seker maak waarin jy jou begewe voordat jy ‘n hand van vriendskap en ondersteuning na Stof toe uitreik, kan jy meer gaan lees oor hom op www.stof.co.za/wieisek. En om die hele stowwerige spul gade te slaan met een oogopslag, besoek sy amptelike werf se tuisblad op www.stof.co.za

Dankie dat jy genoeg belanggestel het, om hierdie stuk te lees.

Soli Deo Gloria

Terug na
indeks

© Stof 2015/09/11
.