stof tot stof, stof tot nadenke
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Stof Stof se ware identiteit
Wees lief vir Stof, vir wie en wat hy is.
Tuisblad

Vandag word ‘n ou saak maar ‘n belangrike saak weer oopgemaak vir solank dit nodig mag wees, en daarna sou gou as moontlik weer gesluit.

Stof wil nie baklei nie. Dit is nie sy aard nie. Stof wil niemand vergruis nie. Dit is nie sy natuur nie. Stof wil niemand veroordeel nie. Dit is iets waartoe nie hy of enige ander skepsel die reg het nie. Stof ervaar egter hoe dié van wie hy dit die minste verwag, baklei teen sy waardige bestaan. Stof voel egter of hyself vergruis word. Stof voel hoe hy veroordeel word.

Hierdie bakleiery geskied egter nie op fisieke vlak nie. Die vergruising geskied nie deur ‘n gruismeule nie. Die taal van veroordeling, meer as 'n vonnis. Die lem van hierdie dolk, is nie van metaal nie. En die manier hoe die dolk uitgetrek word, dikwels met 'n sadistiese en wrede draai.

Dit is hartsgesindhede. Dit is die onwilligheid om die diepste frustrasie van Stof se hart aan te hoor, omdat die hoorders nie bereid is om te luister nie. Dit is voorafopgestelde persepsies wat hoorders weerhou om met 'n oop gemoed, oordeelvry te luister na wat 'n gelykgeskape medeskepsel te sê het. Dit is die volharding in ‘n gewoonte wat geen agting vir Stof toon nie, deur ‘n identiteit aan hom te koppel wat die vergestalting is van verskeie hartdeurborende insidente en dolke van die verlede.

Dit is om die masker van luister te sien, maar in die wasigheid van die oog, te sien dat luister bloot ‘n gefeinstheid is. Dat die “luisteraar”, slegs besig is om hier en daar ‘n woord te vang en té besig is om reeds ‘n aanvallende en verdedigende antwoord te formuleer, op wat hulle dink Stof besig sou wees om te sê.

Stof mag dalk nie die mooiste diertjie in die skepping wees nie. Hy mag dalk ook nie gewildste diertjie in die skepping wees nie. Hy is egter skepsel van die almagtige Skepper en as sulks, ervaar hy daaglike hoe hy deur sy Skepper geseën word. Hy sien daagliks hoe sy Skepper selfs op sy gebede verhoring skenk, en loof Hom daarvoor. Hy sien hoe sy Skepper hom onvoorwaardelik aanvaar en hom nie veroordeel nie. Hy ervaar daagliks die kokon van beskerming wat sy Skepper om hom trek. Hy kan met dank getuig hoedat hy dikwels in situasies wat ander sou vermy, of selfs in ‘n angswekkende vrees sou gaan, die vrede en rustigheid kan ervaar wat net Vader se seën kan bring.

As Stof vandag dan hier vra dat wie en wat hy is, aanvaar word en liefgehê word vir wat hy is, is dit nie omdat hy op enige menslike gronde kan roem nie. Nie omdat sy eienskappe en identiteit superieur is of dat hy hierdie aanvaarding op enige menslike gronde verdien nie. Hy verwys na die vorige paragraaf en en stel dit dat die almagtige Skeppergod nie foute maak nie. Nie in wat Hy skep nie. Ook nie in die oorvloedige wyse hoe Hy elke skepsel onvoorwaardelik aanvaar nie. Hy aanvaar en seën vir Stof omdat Hy wil. Omdat Hy weet, dit is reg. Wie is ons dan om Sy besluit om Stof te aanvaar, in twyfel te trek deur nie dieselfde te doen nie. Wie is ons dan om Stof te verwerp, as sy Skepper hom onvoorwaardelik aanvaar en liefhet. Wie is ons wat sou dink dat Hy hier ‘n fout gemaak het, om as blote skepsel, Sy oordeel in twyfel te trek.

As Stof dus vandag hier raas met enkelinge, is dit nie omdat hy hulle oordeel nie, want as gelykgeskapenes, is hulle bestaan ook in Vader se wil. Hy is nie hier om hulle te vergruis nie, want die oordeel kom geen mens toe nie. Hy vra as gelykgeskape medeskepsel, dat die volgende paragraaf met onverdeelde aandag gelees, weer gelees en deeglik ingedrink word. Hy vra dat sy wens dienooreenkomstig gerespekteer word. Hy vra dat daar nie meer vrae hieroor gevra word nie, want sekere aspekte van hierdie saak is reeds deur sy Skepper afgehandel en dus gewis. Hy vra ook verder dat geen verdere vrae oor die owerheidskant hiervan gevra word nie, want die amptenare wat uit hulle pad gegaan het om hierdie situasie op te los, het so versoek weens verskeie en baie geldige redes, wat Stof met dankbaarheid respekteer. Geen leser is verhewe bo hierdie versoek nie, ongeag enige redes wat aangevoer sou word.

Hiermee dus die versoek:
Daar is mense wat kwaadwillig, of weens onkunde, vir Stof bly aanspreek en voorstel op ‘n identiteit wat met goeie rede, tot heil van verskeie situasies in sy lewe, sowel as die oplossing van bepaalde owerheids-situasies, geskrap is en nie meer in gebruik is nie. ‘n "Identiteit" wat tot verleentheid in staatkundige instansies sowel as sosiale situasie kan lei.

Stof se korrekte identiteit is Stof Stof. Dit is wie hy is en hoe hy reeds jare gelede, gedokumenteer is na die oplossing van ‘n staatkundige penarie wat sy lewe erg omvêr gegooi het. Stof vra dus dat hy aangespreek word as Stof, want dit is wie hy in hart is, maar ook wie en wat hy is, volgens alle owerheidsrekords. Dié wat verkies om sy alias, Lepinotus Patruelis en die gebruiklike wisselvorme daarop, te gebruik soos wat hy in die kreatiewe- en skrywerswêreld bekendstaan, is steeds net so welkom om dit te doen. Dié wat in beperkte en sekere vakkundige situasies bepaalde titels gebruik om hom aan te spreek, dit is ook in orde, solank daardie betiteling slegs beperk word tot die situasies waar dit regtig nodig is. Maar die wat aanhou om ‘n omstrede identiteit wat weens omstrede situasies geskrap is, en doelbewus uit omloop verwyder is deur staatkundige owerhede, moet hulle weerhou daarvan om vir enige rede of verskoning, daardie identiteit verder te gebruik, te promulgeer of selfs net aan hom te dink as daardie identiteit. Daardie "identiteit" wat betrokke is, sal nie hier by name genoem word nie, want die vergrypers weet wat dit is en ook wie hulle is. Daardie identiteit sal ook nie deur enige respondent op hierdie stuk hier genoem of geïmpliseer word nie, wat Stof se wens dat diegene wat by hierdie vergrype betrokke is, of om watter rede ookal kennis dra daarvan, hom genoeg respekteer om bogenoemde versoek te respekteer.

En dit is dit. ‘n Boodskap wat eenvoudig is en maklik is om te verstaan. Respekteer dit asseblief.

Jou gelykgeskape medeskepsel

Stof


Jy kan meer oor Stof lees op die volgende webwerwe:
www.stof.co.za
www.geraamtekas.co.za

.