|
Woordsketse | deur Stof
|
| |
|---|
Indeks
| Tant Sofia en die vrek | Wees maar waardig | Graniet
| Kroon van die Skepping |
Deel
| Donkie |
Waar om Stof se bundels te kry
|
|
|
|---|
Daagliks word daar fisiese gestremdes gesien, en tot 'n groot mate kry hulle baie ondersteuning en simpatie. Dit is mense wat ten spyte van die verlies aan een of ander meganiese funksie wat as 'n gegewe aanvaar word, geleer het om net so vrugbaar en sinvol deur die lewe te gaan. Hulle word dikwels as gevolg van enkele beperkings, in poste gesien waar hulle getipeer word. Daagliks is daar egter 'n groter gestremdheid wat mense se visie vervaag tot enkele faktore van 'n lewe wat na regte so vol behoort te wees. Dit is die materieël gestremdes. As 'n item of entiteit nie in terme van finansiële terme uitgedruk kan word nie, maak dit nie vir hom sin nie. As daar nie 'n weeldemasker rondom hom kan wees nie, maak die lewe nie sin nie. Ondanks ydel woorde dat ander mense wel saakmaak, is daar eintlik 'n boodskap verskuil van eiebelang. Solank 'n ander hom kan dien, en tot sy gestremdheid kan bydrae, is die persoon goed genoeg. Solank as wat daar materie versamel kan word, en daar nie 'n mammonstekort is nie, maak niks anders saak nie. Die onheilige drie-eenheid, naamlik ek, ekself en myne regeer sy lewe met 'n ferm houvas wat hom so blind maak vir die werklikheid dat geeneen van die dinge wat werklik die lewe sin gee, aan hom bekend is nie. As dit blink, en dis myne, is ek gemaak, dan kan die wêreld my sukses aanskou en weet hier is iemand wat iets bereik het. As iemand vir my sê: "Ek bid vir jou" word ek kwaad, want ek het tog niks meer nodig nie. So word tonnelvisie daagliks al hoe erger en erger. Eendag, in eensaamheid en op 'n stoepie van 'n ouetehuis, met kinders wat al begin het om die weelde te aas, begin die werklikheid deurdring. Dan is dit te laat. Die jare wat jy gehad het om sin in jou lewe te bring, het jy verspeel agter weelde en status aan. Nou onthou almal jou as die vrek, die een wat so besig was om al die luukshede af te betaal, dat jou naaste onder jou neus vergaan het van honger en koue. Jy was so volmaak, so sterk, dat dit nie nodig was om jou offergawe te gee nie, want net swakkelinge het mos Sy genade nodig. Waarom dan geld verkwis op naastediens en evangelisasie as ek dit kan aanwend om my eie sukses verder sigbaar te maak? Nou kloek die mense rondom Tant Sofia van die onderdorp, want haar staaltjies kom uit 'n vol, opregte lewe. Haar baksels is steeds wenners, want sy het dit self gedoen, jaar na jaar. Die mense verwys na jou as die ou vrek, die een met die wit handjies wat niks self kan doen nie, want die groot mond het ondergeskiktes 'n leeftyd lank rondgejaag en alles laat doen. As jy praat, is dit oor aandele, of jy kla oor die eenvoud en agterlikheid van jou mede-inwoners. Die matrone wat jou nie altyd eerste bedien nie, is 'n steen des aanstoots, en jy skaam jou dood vir die eenvoudige mense wat jou bure kom besoek. Op jou begrafnis is daar 'n predikant, wat maar sukkel om genoeg te sê te kry, vier of vyf familielede wat jubel oor 'n erfporsie, en 'n betaalde vreemdeling of twee sodat daar darem genoeg kisdraers is. Daarna is al die treurendes rondom een restauranttafel versamel vir 'n eksotiese afskeidsete. En toe was jy nie meer daar nie. Toe Tant Sofia heengaan, was die kerk te klein, mense het buite gestaan, die begraafplaas so vol mense wat kom groet het dat daar 'n ekstra klankstelsel aangebring moes word. Die gemeenskap het gekom en die rye tafels gevul met tuisgemaakte snoeperye, en diep in almal se harte, was die hartseer eintlik 'n blydskap, want dit wat Tant Sofia 'n leeftyd lank in mense belê het, kom nou oorvloedig na haar toe terug in die arms van haar Hemelse Vader. Die dorpsblad het 'n artikel oor haar op bladsy drie geplaas, en daarna 'n reeks artikels oor haar resepte, wenke en goeie herhinderinge. En vir sover ek nog kan onthou, was daar altyd vars blomme op haar graf en mense wat daar kom kuier het, het sommer net kom gesels, want haar oor was altyd oop. Ou Vrek se graf is eenmaal 'n jaar deur 'n munisipale werker afgestof op sy roetine, en dan het ta met heimwee gekyk na Tant Sofia se graf, en die ounooi onthou was hom nog altyd met respek gegroet het en elke krismis vir hom 'n rosyntjiekoek gegee het. En vanuit die hemel, het sy dit gesien en dankbaar gewees dat sy die regte keuse op aarde gedoen het. Ou Vrek was egter so besig om sy eie brandwonde te krap dat hy nie aan enige-iets anders kon dink nie.
|
Lewer jou inset hier per Epos
Terug na hierdie blad se indeks |
Lewer jou inset hier per vorm
Terug na Tuisblad |
|---|
Die vrae wat aangenome kinders soms vra, het dikwels nie antwoorde nie. Die diep maar stille wroeging en wonder wat aanneming soms tot gevolg het, maak dat mense wreed en sonder begrip teen hierdie mens in stryd optree. Deur met enkele aangenome kinders te gesels, en die dinge verder te ontgin, het hierdie stuk sy ontstaan gehad. Dit is 'n samestelling van 'n paar mense se belewenisse, asook hulle oorwinnings en die bevrydende uiteindelike wete dat ook 'n aangenome kind die vreugde van volwaardige menswees kan ervaar.
Wees, maar waardig
Toe ek alleen in hierdie wêreld gekom het, het ek nie geweet dat dit so moeilik is om groot te word nie. Ek wou 'n ma hê, maar sy was weg, ek het nie die voorreg gehad om haar te ken nie.. Niemand kom my vertel wie is my pa nie. Ek was alleen in 'n wêreld vol kinders wat kon sê "Pappa en Mamma".
Daar was 'n oom en tannie wat my toe huis toe geneem het, wat my liefgekry het, en my kos en klere gegee het. Ek het vir hulle ook lief geword. Die oom en tannie het later Pappa en Mamma geword. Deur tye waar daar min lewensbronne was, het hulle vir my lief gebly. Hulle het steeds vir my kos gegee, 'n kamer gegee, en bo alles, steeds vir my liefgehad. Hulle het my van Jesus geleer, en my geleer om Hom bo alles lief te hê. Hy het elke dag saam met my geloop, en my opgepas as Pappa en Mamma nie naby was nie. Hulle het ook vir my vertel dat my regte mamma my vir hulle gegee het omdat sy baie lief was vir my, maar my nie self kon grootmaak weens omstandigdhede. Ek het baie keer na hierdie mamma verlang en gewonder hoe sy lyk, en of dit goed gaan met haar. Maar sy was vir my steeds net 'n gedagte. Ek het 'n lewendige Pappa en Mamma by my gehad wat elke dag met groot liefde vir my sorg en my leer hoe om 'n waardige mens te word.
Ek het Standerd 10 geslaag, en is stad toe om te gaan werk. Ek het baie na hulle verlang, maar geweet hulle het my lief. Daarom het hulle my opgevoed om sonder vrese 'n volwasse lewe in die stad te kan oorleef. Toe ek eers aangepas het, het ek dit selfs by tye begin geniet. Ek het 'n pos as sekretaresse gekry, en my kollegas het my nie verwerp omdat ek 'n weeskind was nie. Ek was so verbaas, want ek het gedink dat my weeskind status 'n kruis is wat alle moontlikhede vir my tussen normale mense sou uitkanselleer.
Eendag het Mamma my gebel. Haar stem was hees, en sy het gestruikel oor haar woorde. Pappa was nie meer daar nie. Jesus het hom kom haal. Ek is woonstel toe sonder om my kollegas te sê waarheen ek gaan. Die volgende dag eers kon ek dit regkry om die kantoor te bel om verlof vir 'n week te vra. Hierdie Pappa wat my met soveel liefde en respek opgevoed het tot dit wat ek vandag is, was skielik nie meer daar nie. Ek is plaas toe, en kon 'n paar dae later daar wees toe sy kis in die Vrystaatse stof wegsak.
Mamma het alleen saam met Ouma agtergebly. Ek is weer stad toe. Ek was mos mooi groot en moes weer my werk gaan doen. Mamma was siek. Ek moes meer gereeld naweke plaas toe gaan om haar te help. Jesus het haar ook eendag kom haal. Ek is weer na Ouma toe. Mamma is langs Pappa laat sak op 'n winderige, stowwerige dag. Hierdie Mamma wat altyd die huis so mooi kon hou en nooit stof op haar meubels gehad het nie, moes nou in die stof tot ruste kom. Dit was vir my seer. Ek was weer alleen, soos ek gebore is. Maar daar was nie 'n oom en tannie wat my hierdie keer kom haal het nie. Net ek en Ouma was oor vir mekaar.
Ouma was gesond genoeg om op die plaas te bly. Sy het alleen daar agtergebly toe ek weer stad toe is. 'n Paar maande later het sy sonder veel tekens van siekte, skielik ook huis toe gegaan. Weer was ek by 'n graf, 'n stowwerige gat wat almal wat vir my dierbaar was, ingesluk het. Ek het Ouma se kar gekry. En 'n paar stukkies meubels en boeke. Ek moes dit gaan haal. Die enigste een wat my wou help om die goedjies te gaan haal, was 'n kollega wat met sy ou kar en geroeste sleepwa bereid was om te midde van sy eie tekorte plaas toe te ry en my porsie te gaan oplaai.
Nou was ek heeltemal wees, heeltemal alleen. As die son sak, kon ek niemand bel nie. As ek op kantoor was, was ek vasgevang in 'n wêreld van agendas, besprekings en notules. Ek het deur my oormoeg te werk, probeer om weer iets noemenswaardig vir iemand anders te beteken. Maar dit het maar net werk gebly. Die leegheid wou nie wyk nie.
Ek het met die omgee-mense by die maatskaplike raad gaan praat. Hulle het my gehelp om om die vrou wat my die lewenslig laat sien het, te ontmoet. Ek was dankbaar dat ek iemand ontmoet het met wie dit vandag goed gaan. Ek was so bang dat ek op versukkelde alkoholiste of boemelaars sou afkom. Sy het nooit soos mamma gevoel nie, maar ons kon goeie vriendinne word. Sy en haar man het my baie na hulle toe genooi vir naweke en vakansies. Maar steeds het hulle net goeie vriende gebly. Hulle kinders kon ook nooit soos halfbroers en halfsusters voel nie. Ons was hoogstens maats.
Ek het vir baie jare soms tog gewonder waarom ek as weeskind die lewenslig moes aanskou. Soms gedink dat ek 'n laer klas mens is daaroor. Ek was tog soms kwaad vir die vrou wat my in die wêreld gebring het, omdat sy my weggegee het. Ek was soms bang dat ek dalk gedoem was om eendag dieselfde aan 'n kind te doen. Dan het my gewete my vooruit gery. Tog het ek mettertyd vrede gekry dat dit in my beste belang was. Dat ek nie vandag sou kon wees wie ek is as dit nie was vir haar onbaatsugtige liefde wat my 'n beter lewe gegun het nie.
Ek het na 'n paar rukke en stote, uiteindelik ook 'n man ontmoet wat my liefgekry het ondanks my geskiedenis. Hy het my geleidelik geleer om myself ook ten volle te aanvaar, en selfs ook lief te wees vir myself. Toe hy op 'n dag vir my sê dat ek kosbaar genoeg is dat hy sy lewe met my wil deel, was ek oortuig dat ek 'n volwaardige mens is. Ek moes alleen in die kerk instap, maar dit het hom nie minder van my laat dink nie. Danksy hom was ek nie meer wees nie. Die grootste genade wat my Hemelse Vader my ooit kon gee, was hierdie mens wat my tot vandag toe nog opreg liefhet. Hy het ook saam met my na die stowwerige graf gegaan, en my daar gehelp om dinge te aanvaar en te verwerk wat ek onbewustelik nooit regtig verwerk het nie. Vandag is ek volkome mens, en weet ek dat daar net soveel genade vir 'n weeskind is as vir 'n ander kind.
|
Lewer jou inset hier per Epos
Terug na hierdie blad se indeks |
Lewer jou inset hier per vorm
Terug na Tuisblad |
|---|
Tydens ‘n artikel-onderhoud met ‘n kunstenaar het ‘n kollega die idee van ‘n granietmens na vore gebring. Op daardie dag het ons saam met die persoon rondom ‘n granietkombuistafel sit en gesels. Hy het my daarna gevra om my ervarings van die openbare lewe daarby in te weef. Deur verder ook ander openbare figure waar te neem en hulle gedagtes te toets daaroor, en dié insigte met my kollega se, en my eie belewenisse saam te voeg, het die stuk, “Graniet” ontstaan.
Graniet
Min mense sal werklik begryp hoeveel kritiek, hetsy positief of negatief, ‘n mens jouself voor inlaat as jy om welke rede ookal, ‘n openbare loopbaan voer. Die kritiek word soms later selfs skinderstories. Dit is verstommend hoeveel ‘n mens van jouself leer wat jy self nie eers van jouself geweet het nie. Luister bloot na al die dinge wat agter die verhoog gesê, of op die agterblaaie van publikasies geskryf word. Dinge wat half waar, onwaar, of blatant smerig is, word as waarheid voorgestel en die persoon wat sy lewe wy aan sy gehoor, die wat wil vermaak word of genees wil word, word die teiken van los tonge.
Die deursnit kunstenaar leer, jammerlik tog, soms later om die dinge te ignoreer, en so ook die positiewe daarin mis te kyk. Dan raak die leiding wat die Gees wat dikwels deur middel van ander mense se insigte gelewer word, verlore. Bloot omdat die vermoë om te onderskei tussen insette wat bedoel is om te lei, en blote gerugte verlore gegaan het.
‘n Ware geballanseerde kunstenaar sal, ideaal gesproke, wees soos ‘n granietblad. Afgunstige kritiek en jaloerse uitlating sal soos ‘n enkele traan wat drup, bloot oor die harde oppervlak rol en uiteindelik afval, vloer toe. Hierdie trane laat wel soms ‘n spoortjie, en daardie spoortjie kan dan dien as herhindering om ook met opregte bedoelings die bron daarvan, met ‘n omgee te bejeen en ook vir die persoon of instansie, op jou knieë te gaan. Sommige traanspoortjies is so yl, dat dit spoedig verdwyn. Dan was dit maar bloot net nog ‘n insident wat nie werd was om kennis van te neem of seer oor te kry nie.
Daar is dan ook dié trane wat soms op die blad val, die wat geïnspireerde trane is, gelewer deur ‘n persoon gehoorsaam aan sy roeping om sy Vader te dien en daarmee saam in gehoorsaamheid aan Hom, ook Sy boodskap oor te dra. Hierdie trane word toegelaat om te versprei oor die granietblad, om dié plekke waar die glans daarvan al verdof het, te polleer, en uiteindelik aan die hele blad ‘n spieëlgladde voorkoms te gee. Die kunstenaar word dan, deur hierdie insette as kosbaar te bewaar en ag daarop te slaan, ‘n spieël waarin die gehoor hulself kan sien, waarin hul hulself beter kan leer ken, en waarin daar tot heil van beide kunstenaar en gehoor, ‘n diep verrykkingsproses plaasgevind het. Dan kan die kunstenaar maar net in nederigheid voor sy Skepper se voete kniel, en ook vir hierdie trane wat oor hom moes vloei, dankie sê: Dankie dat hierdie trane kon maak dat ek aan ander hoop kon spieël, maar ook dankie dat hierdie trane my gepolleer het om blinker te kan weerkaats.
Derhalwe vereis elke inset wat gemaak word in my lewe, jou lewe, die oordeelsvermoë om te onderskei tussen die tipes insette en kritiek, asook die wysheid om die, dikwels kosbare, brokkies, aan te wend soos wat dit beskik was. Moet dus nie as jy op ‘n volgende geleentheid kritiek ontvang, oombliklik ‘n oordeel terugwerp nie, maar vra die wysheid om te onderskei. Daardie kritiek mag dalk net die verhoring wees op daardie desperate gebed waarin jy moedeloos jou Vader gesmeek het om ‘n antwoord. Dalk net daardie onbrekende stukkie van die antwoord-legkaart wat tot nou toe nog, ‘n vraag in jou lewe was.
|
Lewer jou inset hier per Epos
Terug na hierdie blad se indeks |
Lewer jou inset hier per vorm
Terug na Tuisblad |
|---|
Die term 'vrou' word gereeld op uiteenlopende maniere en met verskillende konotasies gebruik. Elke uitspraak wat gewoonlik oor 'n vrou gemaak word, berus op 'n ander benadering. Tog, as die verfdun gesigmasker gestroop word, die eksotiese weefstowwe wat haar omring, die figuurmania wat soveel verwar, verwyder word, en die ware wese genaamd 'Vrou' aanskou word, word die doel van haar skepping duidelik. Sy is 'n amalgamerende faktor in haar gesin, haar gemeenskap. Sy is kompleks, maar hoe kan sy dan anders as kompleks wees as alles wat edel is in een wese ingebou is? Geen mens mag ook so arogant wees om daarop te roem dat hy so 'n meesterlike samestelling in een wese kan verstaan nie, want sy is nie deur 'n mens uitgedink nie. Sy kan nie nageboots en vervals word nie, want geen mens kan so uitnemend skep nie. Sy is daar, want sonder haar sou die aarde 'n blote meganiese stryd om voortbestaan gewees het. Sy gee aan hierdie voortbestaan betekenis, en haar diversiteit neem enige vervelige voorspelbaarheid uit die lewe uit. As elke wese wat hierdie eretitel 'Vrou' werd is dit volkome uitleef, is dit onnodig om menslike maatstawwe vir die term 'dame' te skep, want inherent is 'Vrou' 'n eretitel wat nooit verhandel of vervreem kan word nie. Kyk dus verby die kosmetiese maskers en uiteenlopende verpakkings, en sien die ware wese raak. Dan begin die wêreld ook weer kleur kry en die skepping sin te maak.
|
Lewer jou inset hier per Epos
Terug na hierdie blad se indeks |
Lewer jou inset hier per vorm
Terug na Tuisblad |
|---|
Dit is maklik om 'n hand uit te reik en 'n broer te help as jy dit uit jou oorvloed doen. Dit kan selfs promosiewaarde vir jou besigheidsbelange hê. Om vanuit 'n posisie van oorvloed te gee waar daar nood is, is ook prysenswaardig. Tog jammer dat die pers dan altyd daar moet wees om getuie te wees van jou goeie dade en dit aan die wêreld uit te basuin. Gewoonlik word die beriggewing dan so gedoen dat die fokus op die skenker val. Die ontvanger is 'n mindere faktor wat bloot maar net daar moes wees om die prentjie te voltooi.
Vanaand gaan jy huis toe. Dan hoor jy 'n klop. Jy stap na die deur met jou heel sokkies aan, nadat jy opgestaan het van 'n leerbank af terwyl jy na jou 72" TV gekyk het na die nuutste DVD, om te sien wie nou weer pla. Dan sien jy hom, flenters, met skoene vol gate en sonder sokkies. 'n Gestuurde. Maar die media is nie nou naby nie, en daar is dus geen sin daarin om 'n hand na 'n medemens uit te reik nie. Ongeduldig en in enkellettergrepige taal verwilder jy die man wat daar staan. Dan sak jy terug in jou leerbank, en verlustig jouself verder aan die oorvloed in jou huis.
Hoe sou jy weet wie dit was wat by jou deur was? Hoe sou jy voel as dit dalk 'n engel was wat na jou gestuur is om te sê "Ek is honger, ek is naak"
Daar kom 'n dag dat jy jou kombuiskas oopmaak, en met die aanskoue van al die leë rakke wonder waarom die groot transaksie toe skeef geloop het. Dan sien jy daar is nog 'n blikkie, nee, twee oor. Weereens 'n klop. Verslae kyk jy weer die gestuurde aan, en herken hom wat jy so wreed weggestuur het. Dan besef jy, daar is twee blikkies. Een vir jou en een vir my. Met 'n nuutgevonde rykdom in jou hart, sien jy hoe hy stralend wegstap met die blikkie, en jy besef dat hy gekom het om vir jou seën te bring.
Terwyl jy oorvloed had, was 'n medemens se nood vir jou 'n vae iets wat net elders bestaan. Toe jy verblind was deur glans, kon jy nie die seer van ander sien nie, want jou oorvloedsbril was te donker. Nou is jy geseën met maskerlose visie, en kan jy 'n medemens, 'n gelyke skepsel wat deur dieselfde God geskep is, raaksien. Die seën van deel uit die hart uit, self ervaar.
Waarom was dit nodig dat jou groot transaksie moes skeefloop, dat jy materieël moes afskaal na die nodigste? Dit was om jou te genees, om jou weer 'n medemens vir ander te maak. Dan maak deel sin, en jy besef dat jy nou ryker is as ooit vantevore.
As die versoeking dan kom om te dink dat jy eers my eie belange moet dien voordat jy ander in ag neem, dink daaraan dat jou eie gierigheid jou drumpel elke dag net nog en nog sal opstoot. Dan sal jy nooit die punt bereik dat jy 'n plekkie vir 'n medemens sal hê nie. Deur ook in tye wat vir jou lyk asof jy nie laer kan nie, 'n ander raak te sien, bring rykdom, groter as wat selfsug ooit kan bring.
Toe jy jou deur vir die gestuurde oopgemaak het, het jy nog 'n huis met 'n deur gehad. Toe jy aan hom die blikkie gegee het, het jy nog self ook 'n blik oorgehad. Toe hy wegstap na die park, of die brug, het jy op 'n bed gaan slaap. So was jou ervaring van 'n laagtepunt, eintlik 'n uitwysing van jou seëninge. En eendag, as jy weer daardie groot transaksie gekry het, sal jou deel wees sonder mediadekking, jou omgee vanuit die hart, en jou dankbaarheid vir jou DVD en 72" TV, teenoor jou Hemelse Vader.
|
Lewer jou inset hier per Epos
Terug na hierdie blad se indeks |
Lewer jou inset hier per vorm
Terug na Tuisblad |
|---|
Vaaltyn. ‘n Donkie gebore as donkie en wat sal sterf as donkie. ‘n Donkie wat ‘n gesin se wa sleep van die dorp na die kaia. ‘n Donkie op wie se verjaardag ‘n klomp romantiese siele allerlei beloftes aan mekaar maak sonder om die langtermyn implikasie van hul woorde te begryp. ‘n Donkie wat ‘n bakkiespomp kan draai, en so water vir mens en dier uit ‘n put kan pomp. Hy mag ‘n donkie wees, maar hy is gebore met ‘n doel. Hy kan nuttig wees vir party, ‘n irritasie vir ander. Deur ‘n donkie te wees kan hy dien. Geskep om die dinge te doen wat ander nie wil nie. Daarom ‘n besondere wese, ‘n lasdier wat bereid is om ‘n ander se las te dra. Sonder om te kla, trek hy dit wat jy nie wou trek nie, of die son skyn en of dit reën. In wese deur sommige gehaat omdat hy nie vinnig is nie, maar steeds in aanvraag vir sy krag. Nederig, lieftallig. Soms geniepsig as jy daarvoor gesoek het.
Werk jy in ‘n kantoor waar lugreëlaars jou koel hou, waar ‘n versnappering net ‘n interkomknoppie ver is? Jy wat hierdie weelde rondom jou versamel het, waarom raak jy ontsteld as iemand jou vra om ‘n las te help dra. Waarom verlaag jouself tot benede ‘n donkie, deur te weier om te dien. Danksy skepsels soos jy, kry ‘n donkie weer status, sien mense hom raak vir die lasdraer wat hy is, sonder dat hy kla.
Weet jy dat dit ‘n donkie is wat vir Billeam vermaan het toe hy die pad byster geraak het? Weet jy dat dit ‘n donkie was wat vir Jesus in Jerusalem ingedra het? Dat dit ‘n donkie is wat bo blink perde, die eer had om ons Saligmaker te kon dra op Sy eretog?
Dan is dit meteens duidelik waarom die donkie gekies is om hierdie eretaak te verrig. Jesus het gekom om ons sondelas van ons af te neem, ons swaardra, syne te maak. Daarom verwag Hy ook van ons om mekaar se laste te dra, en op hierdie manier, mekaar se donkies te wees. Dan is dit duidelik waarom Hy in Sy oomblik van glorie, gesien wou wees op die rug van ‘n lasdier, ‘n gewillige dienaar wat dit waardig was om Hom te dra.
|
Lewer jou inset hier per Epos
Terug na hierdie blad se indeks |
Lewer jou inset hier per vorm
Terug na Tuisblad |
|---|