Asseblief
Deur Blondie

Here, dis nag
ek kan nie slaap nie.
Langs my lę
die Jack Russel
uitgestrek en rus.

Ek kan nie slaap nie
minder as ‘n kilometer
is die afstand
wat ons skei
maar ek slaap nie.

Here, ‘n lafaard is ek
hardloop weg
gee op en trek
kry my eie plek
en hy ly alleen.

“Seer alleen leeg”
so noem hy dit.
Hier by my is dit
ook so Heer.
Wat is U doel?

Wat het vanaand
daar weer gebeur?
Kan alles nie maar stop
alles net eindig nie?
Here, gee my rigting.

Moet liefde seer wees?
Moet verlange fisiese pyn wees?
Moet daar twyfel wees?
Moet daar afstand wees?
Moet daar terughouding wees?

Here, asseblief
vou hom toe, styf toe
in U liefde
wees hom genadig
staan hom by.

Asseblief, gee hom
geduld met die omstandighede
begrip vir dié om hom
rustigheid vir homself
deursettingsvermoë vir die pad.

Die situasie is onwerklik
onwettig in mense-oë
tog weet en glo ons
en so paar ander
U het ‘n doel met ons twee.

Here, gee ons krag
om staande te bly,
mekaar by te staan
deur aanslae en stryd
in ons liefde vir mekaar.

Terug na indeks Epos die skrywer