Huis
Deur Blondie

Die werklikheid van alles
wou nie heel deurdring
tot my verwarde gemoed nie.

Tog het ‘n foonoproep
die realiteit
en finaliteit gebring.

My geboorte grond
my enigste tuiste
- verkoop aan ‘n uitlander.

Skynheilig en agterbaks
deur my eie bloed familie
verkoop sonder skuldgevoel.

Dierbare ou huis
hoeveel ure het ek
jou grootsheid geniet?
Hoeveel vreugdes en leed
het jou mure aanskou?

Hoe baie het ek in jou
gehuil van die lag
op die grond gerol
trane van pret afgevee?

Hoe baie was ek
bitter en opstandig
teen die grond verpletter
verneder en gebreek?

Hoeveel keer was ek siek
was jou mure my vesting
was jou stilte my genesing
was jou tuin my salf?

Jou tuin was ons lushof
‘n paradys om in te baljaar
‘n vreugde om in te speel
maar ‘n duiwel om te onderhou.

‘n Klein voetspoortjie
gedateer 1983
is in jou oprit
- dis myne.

Here, dit voel verskriklik
Hierdie rou seer in my.
Hoe kan my pa
so laag en gemeen wees?

My ma se hibuskusse
My pruimboom
Die ou vyeboom
Die druiwe prieël...
My viooltjies
Die ivy’s – elk met sy eie storie

Watter waarde gaan hy hê
hoe gaan hy maak met dit?
Dit wat deel was van my lewe
wat ons met liefde versorg het?

Twee en twintig jaar
en ses maande
was dit my enigste huis
my gunsteling plek.

Nooit weer sal ek
in die pruimboom my trane stort
siek word van te veel pruime nie
vye eet van die boom af nie
skil en al.

Nooit weer sal ek
jou druiwe sien bot nie
jou bome snoei nie
jou gras sny nie
jou leiklip eet nie.

Here, help tog dat ek eendag
vrede kan maak met alles
als het so gou gebeur –
die laaste jaar en ‘n half.

2005-01-29

Terug na indeks Epos die skrywer