Wanneer dan
Deur Blondie

‘n Ballade

Alleen op ‘n Saterdag
Alleen in die na-middag
Alleen geswoeg
Alleen gesweet
Alleen vol kommer en vrees

Kommer oor ander
se weer probeer
Vol wonder oor
hoeveel laastes daar
in elke laaste is
en oor wanneer dit eindig

Daar steek ‘n seer in my
Heel onverklaarbaar
tog vreeslik seer...
Elke ‘laaste kans’
wat gegun word
is nog ‘n steek in my hart

As ons saam is
tik die horlosie te vinnig
As ek alleen is
tik hy te stadig
maak elke sekonde seer.

In alleen tyd bly ek wonder
...het wat in die ver verlede
gebeur het wel nog invloed?
...of is dit werklik ek
wat vlieg in die salf is?

Met ‘n knop in my keel
en trane wat in my
los hare drup
sit ek alleen en wonder hoe lank
dié liefde seer gaan wees.

Om my blom almal van vreugde
Mense, vriende gaan uit
geniet mekaar, leef voluit
geniet alles van jonk wees
en eenkant is ek – alleen

Ek bring mense bymekaar
Deel hulle vreugdes en leed
Sorteer hulle probleme uit
Gaan op my knieë vir hulle
Vol glimlaggies en ster-oë
Maar binne is ek rou

Ek’s rou want op 23
het ek gedink dat
ek nou geluk, aanvaarding
in my lewe gevind het
Maar weer eens – soos altyd
kom dit nooit nader as
net in sig nie.

Telkens skep ek weer moed
hoop ek nou sal als uitwerk
om net weer te hoor
‘Sy probeer hard die keer –
regtig’

Hier is ek nou op my eie
leef my eie lewe van dag tot dag
na ek my lewe opgeoffer het
my jonk wees gegee het
om ander te help

My ma is nie hier nie
dit was God se wil
dit het ek aanvaar
Maar Here, hoekom
waarom kan ek nie verstaan
dat liefde so bitter seer
moet wees nie?

Ek’s op my eie
oor die ‘laaste kans’
en ‘weer probeer’
opgebruik is
klaar is

Hoe lank voor ander
se laaste laaste is?
Voor weer probeer
verby sal wees?

Hoe lank nog gaan
my soeke wees?
‘n Soektog al in die rondte
heen en weer
dieselfde paadjie
van geluk dan seer
weer en weer
en nog ‘n keer?

Hier is niemand Heer
op wie se skouers
ek vanaand my leed
uit kan snik nie
Net ek alleen...
nie eens my hond
Is hier vanaand nie...

Sou my ma verstaan het?
Sou sy my vertroos het
of sou sy my veroordeel het?
Sou sy my verstaan en
ondersteun het?

Dit is soms so
bitterlik alleen hier
Voel asof mure
jou vasdruk, versmoor
Donker jou jaag.

Vergewe my my twyfel
vergewe my my trane
en my ondeurdagte woorde
Maar hier binne my
klop ‘n hart
van vlees en bloed

‘n Hart wat weet van seerkry
wat bang is daarvoor
‘n Hart wat nie meer so maklik
alles wil glo nie.
‘n Hart wat lief het
so ongelooflik baie lief het
maar so moeg gewag is
so moeg is van geduldig bly
van weer probeer

Wanneer dan is laaste
werklik laaste?
Of is dit ek wat
te lig is in die weegskaal?

Ek is verward
want ek weet nie meer
wát om te dink
en te glo nie.

2004-12-18, 16:35

Terug na indeks Epos die skrywer