By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis
deur: Meraai vannie baai

Ek 't vandag gaan sit
as *immigrant -
by die voete van Jan F.E Cilliers;
wou daar net weer gaan leer
sodat ek ook soms kan dig
soos die meesters uit die verlee'
in my taal aan moederskoot geleer

So pas ek vermoeid die woorde toe:
al stuiwend en stampend vorm ek nou deel van die *verraaier se geslag
deur jou verag die dag toe ek die land verlaat het met my jas van nuwe woorde
wat nie meer knus wou pas

En tog, pas ons nog áltwee toe,
die reëls om met stemming
saam te voeg wanneer ons dig;
gebruik ons uit dieselfde bron

Rympatrone - vir ritme:
Twee reëls is 'n koeplet
en ses pronk as sekstet
agt vir oktaaf -
en veertien -
'n sonnet!

Ons weet van jambe en pirre
selfs trogee en spondee
Ons leer van skema's met die abc:
Gekruis is abab cdcd
Omarm die vertoon as abba cddc
Met slagrym gebruik ons slegs - aaaa!
En ámper vergeet ek die gebróke een
abcd!

Ek 't vandag ook gaan sit by die voet
van 'n knaap genaamd:
... Koos Kombuis ...

So was 'k vanuit die verlede
geruk tot midde in die hede!

Tot daár waar my ou meester's drome
vergruis geworstel het met sy woorde
soos babelaas en loom,
en die verveelde doringboom!

Nou wonder ek,
maak ons dan nou plek
vir woorde wat bely
uit die mond van Koos Kombuis:
van 'n eeu wat end -
going, going gone!

Ek 't toe maar weer gaan sit
by die voete van Jan F.E Cilliers
"So, stom tot die stond van hul sterwe,
blyf ieder 'n held van die daad...
Hul bene, na swoeë en swerwe,
lê ver op die velde verlaat."

Is die era van die doringboom verby?
Het dit tyd geword om te bely:
Hierdie boompie is verplant -
Ek is nou 'n *immigrant
in 'n land waar almal om my,
'n ander taal praat!

* Verraaiersgeslag en immigrant moet gelees word in die terme van 'n nuwe skryfstyl en die minagting van verandering en aanvaarding veral in die nuwe neiging van lirieke in die Afrikaanse musiek gebied.