Kluisenaar
Deur Mandi Engelbrecht

Partykeer wil ek myself net toe-sluit in ‘n kamer
en niemand sien nie hoor nie voel nie.
Verby almal se verwagtings leef
as kluisenaar – asemhaal sonder verpligtinge –

Partykeer weef woorde van mense my toe
vergaan my essensie in uitbeelding
en gryp ek na drywende hout
wat my verseker gaan kelder.

Selfs die son is te veel,
die oë wat staar en hande wat neem
ek verlang na eenvoud, ‘n kaggel wat verstaan
en stilte wat gemoedelik tussen ons gelê het.

Ek verlang na gemaklik voel, as ons huis wel my vesting is
en die oop vlaktes om my vol lavender – my klein stukkie Frankryk –
en jy my kopkussing, om jou hart gerusstellend te voel klop
dat geen honde wat blaf of hekke wat skree my bang maak nie.

Want dis die vreemdelinge wat my nie ken nie
grys paaie wat hulle na my rooi stoep toe bring
ek vrees nou die mens se kloue soos koue ys
druppend langs my ruggraat af.

Terug na indeks Epos die skrywer