Grys Potlood Woorde
Deur Mandi Engelbrecht
vir Pa
As ek aan jou dink en probeer aanhou skryf
raak alles half blou-grys in jou storm-oë.
Dan val ek verby rede’s, verby “hoe dit moes wees”
gryp ek na jou geskrewe woorde van die nag.
Dan is ink te donker om jou vastevang
te permanent (asof dit vir altyd sal hou)
Die potloot is veel sagter, dit kan ook uitvee
dit wat donker in jou was, (soos ou as)
Onthou ek die besef-oomlik, waarin jy wegkwyn
tussen die mure wat stelselmatig jou tronk word.
Dis hier waar ek jou ‘n laaste keer sien
toe jou gees elders was (verby ons wit of swart)
Hier waar jou pyn alleen en grensloos was (‘n stil einde)
en ek kon dit nooit verwerk of verstaan nie,
jou vergryping na dit wat tog so leeg was
om dit te kry wat tog ook nooit genoeg was nie.
Maar jy bly die grys om my, as kleur my verraai
bly net jy oor, en grys potloot woorde.