Swerwer
Deur Mandi Engelbrecht
Sal die wind ooit weet
waar hy vandaan gekom het?
Dan sal die reën kan verstaan
waarom sy hom nooit weer wil sien nie.
Klein riviere kantel tot glanspoele, soos haar oë.
Om haar dorsland vorm oases van varings
wat bleek geboorte gee aan klam mos.
Sy dans half ongeskonde in sagte motreën
want die mis sal haar nooit verraai nie
haar tuiste bly altyd ‘n grag-omringde kasteel
maar hy, hy sal maar net ‘n swerwer bly,
sy vlak voetspore verspoel tot modderpoele.
12 Oktober 2004