Terloops
Deur Mandi Engelbrecht
en nou … as jy so vir my glimlag?
as jy so presies sê wat ek voel?
my asemhaling antisipeer en vasklou aan ons verledes?
ek voel my lippe droog word
en gryp sommer na dubbelsinnige woorde
verse wat kinders maak, wat glad nie sin maak nie
wat het jy gedink sal gebeur
as jy belangriker word in my lewe
my rug sag vryf, die hare voor my oë wegvee
en glo dat wonderwerke vir ons gaan gebeur?
hoe kan jy dit aan my doen
jou oë toelaat om my siel te verken
dat ek water word en uithuil in jou arms
as jou stem met emosie bewe
en donker lig word vir ‘n oomblik
laat ek jou vertel wat dan gebeur:
ek verloor wat myne is om oor te gee
word verborge vrugte so beskikbaar
spin ek web na web om almal van jou weg te hou
maak jou my kussing, kruis en kombuis
word ‘n ligjaar so gebore vir my
en so groei die reëls, pers ek myself uit
word nagte terloops – net nog ‘n slapie –
en jy die komeet wat in my hol rug pas:
ek droom van situasies wat jou myne maak
kaggelaande – winter se versoeningsgeskenk –
word ek naïef en sommer weer kind
en terloops – my lief –
wat gaan jy nou maak met my hart?