Vlugteling
Deur Mandi Engelbrecht
vir Peter
Van jou maak ek ‘n grys potloodskets
nie hieroor of daaroor nie
net vir die onthou.
Dit sal ongeraam bly en nie opgehang word nie
maar wel die raamwerk wees
waarin ek versigtig bly
en nie minder of meer
gaan probeer voel nie.
Daar sal ‘n fokus wees op sagter lyne
asof skakerings net in die donker kan lewe
helder lig sal net in die oë weerkaats.
Sonder om te veel daarvan te maak
of te min aandag daaraan te gee
om in my memory kis weg te gaan kruip
en later net in reëndae verlang en afstof
tussen al die ou kiekie’s en love letters deur.
Dan eers kan Israel met al sy verwagtings berusting vind
sal jy leeg en onbetrokke op ‘n afstand bly
en die Galilea-see eindelik rustig word in my siel.
As ek niks meer inlees as wat voor my staan nie
die koue water teen my seer voete voel kriewel
en ver uitstaar tot aan die oorkanste oewer
om stelselmatig te onthou – selfs hier en ook by my huis –
hoe eensaam ons vlugtelinge maar altyd is.
1 Oktober 2005