Bosveldvreugde
Deur Marietjie Grove

‘n Ystervlerk het my in ‘n betonstelasie afgegooi,
toe neem ek ‘n swart slingespoor, na daar waar ek my siel sou hoor.
Die borrelgeluide in my stem
soos donderweer na ‘n reenbui, is ‘n grom van genot
oor dit wat kruipend oor die einder kom,
nader, en nader tot ek dit voel en ruik hier teenaan my.

My hart het op gallop gegaan,
want voor my lê ‘n rykdom ongekend,
die bosse en gras smel tot ‘n geurpalet,
en ek word heeltemal verteer,
vir die bosveld ontdek ek, is daar geen verweer.

‘n Reis om Vaalwater en deur Bakkerspas
tussen blikblaar bome, selfs die met vaalblaar of skeef onewe bas,
daar verloor ek stukkies van myself, ja my hart bly lê
teen die berghang en blou skoon lug,
onder elke klip, stroom en boom
voel dit soos ‘n Rip van Winkel droom.

My siel vind rus in hierdie paradys
‘n wêreld meer huis as huis,
en neem reise my elders heen
ween ek soms steen en been.
Smeek my wese vir ‘n stukkie asiel
want die skeiding is ‘n wroeging vir my gees
daarsonder is my lewe dor en leeg, heeltemal verwees.

Pak vir my die ruimte in,
bou vir my huis uit hierdie grond se vrede,
leer my dat selfs droogte
uitkoms vind in reën en skadu,
deurvleg my met suiwer voëlgeluide,
voed my uit die lowergroen aardse rykdom.

Terug na indeks Epos die skrywer